Sop en brood word uitgedeel vir gesinne.

Warm harte op Wêreldhongerdag


Solidariteit Helpende Hand se ­Saldanhabaai-tak het die afgelope Donderdag (28 Mei) saam met die Ons Winkels in Vredenburg en Langebaan Wêreldhongerdag gedenk deur vars groentesop, broodjies en nie-bederfbare kos aan twee plaaslike gesinne te skenk.

Wêreldhongerdag word jaarliks wêreldwyd herdenk om bewust­heid te skep van hongersnood en die miljoe­ne mense wat daagliks sonder genoeg kos moet klaarkom. Die dag dien ook as ‘n herinnering dat gemeenskappe deur samewer­king en omgee ‘n verskil in die lewe van mense in nood kan maak.

Lede van Helpende Hand en die eienaars van die Ons Winkels het hul eie etes vir die dag as deel van die inisiatief afgestaan om dit eerder aan mense wat minder bevoorreg is, te skenk.

Die Saldanhabaai-tak het sy dank uitgespreek teenoor die Langebaan-gemeenskap vir skenkings van droë voedsel, asook aan Spar Nautica Mall vir vars sopgroente. Die Ons Winkels in Vredenburg en Langebaan het elk twee dosyn vars gebotterde broodjies geskenk.

Danksy dié steun kon die organisasie 10 liter vars groentesop en broodjies asook nie-bederfbare kos van meer as R2 000 aan die twee gesinne oorhandig om hulle deur die koue winterdae te help.

Solidariteit Helpende Hand se tema vir 2026 is ‘Werksyn’. Mense wat graag by die inisiatief betrokke wil raak of ‘n bydrae wil maak, van Solidariteit Helpende Hand in Saldanha by 083 382 9723 kontak. “Die beste helpende hand is aan die einde van jou arm,” lui die boodskap. Die organisasie fokus daarop om armoede te ver­lig, verbreek en voorkom deur op­voeding, opleiding en ontwikkeling.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 4 June 2026
    Weslander E-Edition – 4 June 2026

Gift this article