Die soet klanke van Hiram Koopman se saksofoon het die teater van Die Koelkamers behoorlik op Vrydagaand (22 Mei) gevul.

Koopman, die bekende saksofoonspeler, het sy solovertoning Sax in Afrikaans Paternoster toe gebring, ‘n vertoning wat almal teruggeneem het na al die goeie Afrikaanse musiek.

Die vertoning het ook die geleentheid gebied vir Paternoster-oumas om die aand by te woon. Met sowat 50 oumas teenwoordig was die “borg-‘n-ouma”-konsep ‘n reuse-sukses.

Volgens Jan Malan, mede-eienaar van Die Koelkamers, was die aand opwindend en groot pret, met ‘n sterk gevoel van kameraadskap en saamwees in die lokaal.

“Hiram se optrede was persoonlik, veral met sy ouers daar, en ek dink almal het daardie egtheid gevoel. Om ook al die oumas daar te hê, was ‘n groot vreugde.”

Koopman sê die “borg ‘n ouma”-konsep is ‘n fantastiese inisiatief.

“Ek dink oumas speel ‘n baie belangrike rol in enige familiekring en om te sien dat die oumas daar is en die konsert so geniet, was besonders. Hulle het lekker geëet. Ek moet net baie dankie sê vir Jan wat saam met ons was om dit moontlik te maak.

“Dit was vir my regtig ‘n riem onder die hart om te sien hoe jonk en oud, maar veral die oumas, dit so geniet het. Ek is bly dat musiek nie ‘n ouderdomsbeperking het nie.”

Hiram Koopman saam met die band en oumas van Paternoster.
Hiram Koopman saam met die band en oumas van Paternoster.

Om gemeenskappe te sien wat plaaslike kunstenaars ondersteun, beteken baie vir Koopman, veral omdat hy al 17 jaar in die musiekbedryf is.

“My eerste solovertoning in Paternoster was uitverkoop, en dit maak my regtig baie gelukkig. Sax in Afrikaans is eintlik iets wat al lank in die agterkant van my gedagtes was. Ek dink teen Februarie vanjaar het ek net besef: ek wil my eie vertoning begin, in Afrikaans.

“Vir baie jare speel ek al saam met verskillende kunstenaars in die Afrikaanse bedryf, soos Spoegwolf en Elvis Blue, en dit stel jou bloot aan ‘n baie wye spektrum van gehore en gemeenskappe.

“Om dan te sien dat my eerste vertoning in ‘n klein Weskusdorpie soos Paternoster uitverkoop, beteken ongelooflik baie vir my. Die ondersteuning uit die gemeenskap, nie net van Paternoster nie, maar ook van plekke soos Vredenburg en die omliggende dorpies, was regtig besonders.

“Wat vir my ook spesiaal is van Sax in Afrikaans, is dat niemand sing in die show nie. Dis ‘n baie instrumentale produksie, en ek dink daar is iets besonder kragtig daarin wanneer ‘n plaaslike gemeenskap so sterk agter iets oorspronkliks en eerliks staan.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 21 May 2026
    Weslander E-Edition – 21 May 2026

Gift this article