Antoinette Kellerman is een van die groot kunstenaars wat die verhoog by Die Koelkamers betree het.

Om die vyfjaar-mylpaal te vier is ‘n groot eer vir Die Koelkamers-teater in Paternoster.

“Die Koelkamers is ‘n ruimte vir kreatiewes om hulself en hul talent bloot te stel,” glo mede-eienaar Jan Malan.

Die Koelkamers het sy deure in Maart 2021 met ‘n opvoering deur Sandra Prinsloo en Neil Rademan geopen.

Vanjaar se vyfjaar-viering is op Sondag 15 Maart gehou met ‘n konsert deur die bekendes Jana Cilliers en Koos du Plessis.

Volgens Jan het die droom van Die Koelkamers in 2020 tydens die pandemie begin en sedertdien is daar baie sakke sout saam met die wonderlike gemeenskap van Paternoster opgeëet.

“Die feit dat ons nou al vyf jaar suksesvol aan die gang is, voel steeds vir ons soos ‘n droom. Vyf jaar beteken dat ons nou wortel geskiet het en nie meer as inkommers beskou word nie. Dit is nie iets waaraan ons destyds gedink het nie. Dit voel nou wel vreemd dat ons nie meer ‘n nuweling is nie en tyd vlieg ongelooflik vinnig, en tog voel dit vir ons of ons nog in ons babaskoene is,” meen Jan.

Hy vertel dat hy en sy lewensmaat, Grey Meyer, reeds sedert 2003 ‘n vakansiehuis in Paternoster het nadat hulle op die dorp verlief geraak het. Die grendeltydperk het egter hul produksiemaatskappy heeltemal verlam. “Toe die inperking begin, het ons besluit om permanent in Paternoster aan te bly — en nooit weer na Johannesburg terug te keer nie.

Ons het nog altyd die idee gehad om ‘n klein lokaal vir konserte en toneelstukke in Paternoster te begin. Uit nood en selfs ‘n bietjie verveeldheid het ons begin navrae doen, en wonder bo wonder het Paternoster Groepbelange dieselfde visie gehad.”

Selfs met die grendeltyd en ander uitdagings het hulle met die onder-

steuning van die Groepbelange en die plaaslike gemeenskap die droom van Die Koelkamers ‘n werklikheid gemaak.

Die Koelkamers het al baie bereik en reeds meer as 700 opvoerings met verskeie kunstenaars aangebied. “Wat ons uniek maak, is ons diversiteit, ons klem op verskillende kunsvorme, en ons liefde vir Afrikaans, hoewel ons ook baie Engelse vertonings aanbied. Verder is dit die ervaring wat kaartjiehouers beleef van die oomblik dat hulle by Die Koelkamers arriveer.”

Jan bedank elkeen wat tot dusver saam met hulle die pad na sukses geloop het.

Sy toekomsblik is om voort te gaan met die etos van die teater, konsekwent te bly en die Weskus van ‘n ruimte vir die kunste te voorsien.

Eienaars Jan Malan en Greg Meyer.
Kinderteater en pret vir kinders is ook belangrik.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article