Die onafwendbare tydelike sluiting van die Amawandle- en Lucky Star-fabrieke aan die Weskus tref fabriekwerkers, hul huishoudings, klein besighede en gemeenskappe wat reeds onder geweldige ekonomiese druk gebuk gaan.

Baie families in Laaiplek, Velddrif en St. Helenabaai gaan sonder geld sit vir basiese benodigdhede soos kos, skoolgeld en die vermoë om skuld te betaal.

Wat die situasie nóg bitterder maak, is dat die minister van bosbou, visserye en die omgewing skaars ‘n maand gelede op die Weskus was om snoek te eet, hande te skud met uitgesoekte rolspelers in die visbedryf en glimlaggende foto’s te neem. Vandag sit gewone werkers met die vrees van maande sonder inkomste weens die regering se kwotastelsel.

Ja. Die bron moet beskerm word ten alle koste, want anders gaan dieselfde werkers ook sonder werk sit. Maar pas die regering ander uitweë toe om te sorg dat die bron nie deur oorsese rolspelers onwettig gevang word en uitgewis raak nie?

Terselfdertyd is politieke partye reeds volstoom besig met verkiesingsveldtogte vir die plaaslike verkiesing later vanjaar. Gemeenskappe hoor toesprake en beloftes, maar min konkrete oplossings vir werkloosheid en voedselonsekerheid.

Die Weskus het nou daadwerklike ondersteuning en eerlike leierskap nodig, nie nog politieke vertoon nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 28 May 2026
    Weslander E-Edition – 28 May 2026

Gift this article