Die swaar reën en wind van die afgelope paar dae hou groot uitdagings vir boere in die Weskus-streek in, met lande wat onder water staan, planttyd wat verlore gaan en vrese oor verdere vloedskade langs die Bergrivier.

Só sê SP Tredoux, streeksbestuurder van Agri Wes-Kaap in die Weskus-streek. Volgens hom is boere tans besig om slote te grawe om water uit lande weg te lei, veral waar gewasse reeds geplant is.

“Almal maak planne om die water weg te lei. In die sanderige gronde is dit nie so groot probleem nie daar sal ouens wees wat al vandag weer kan plant, maar in kleierige grond gaan dit ‘n moeiliker taak wees. Trekkers val weg en die grond word nie vinnig genoeg droog nie,” sê hy.

Hy meen die nat toestande kan ‘n invloed hê op hoeveel hektaar geplant word, aangesien planttyd beperk is.

“In gebiede soos Porterville weet sommige boere nie hoe hulle gaan plant nie. As die lande nie betyds droog word nie, verloor hulle kosbare plantdae. Hoewel die reën broodnodig is, kom die vloedwater vroeër as gewoonlik vanjaar.”

Volgens Tredoux is die grond nog nie heeltemal versadig nie, wat help dat water vinniger wegtrek, maar die situasie bly uitdagend.

Langs die Bergrivier is daar ook groot kommer oor stygende watervlakke.

Gebore Velddriwwers kan nie onthou dat dié laagwaterbrug in hul lewe al oorstroom het nie.

Tredoux sê nuwe waterhoogtes is reeds in dele van die Paarl gebied bereik en dat die water binne dae ‘n groot impak stroomaf op Velddrif kan hê.

“Ons is bekommerd oor die springgety by Velddrif. Al daai water kom nog af en die Paarl se water vat nog drie tot vier dae voordat die volle effek hier gevoel gaan word,” verduidelik hy.

Vakansieverblyf langs die rivier is reeds geraak, met sommige besprekings wat gekanselleer is.

Boere en inwoners moes ook pompe, drywende jetties en ander toerusting uit gevaargebiede verwyder.

Volgens Tredoux het die oorstromings ook ‘n groot invloed op vee en weiding.

“Gewoonlik loop diere hierdie tyd van die jaar nog onder in die vleie. Dit is nog nie rêrig die tyd wat die rivier moet vloed nie, so dit het ‘n groot effek op die diere en die weidings.”

Hy waarsku dat die gevolge van die huidige weerstoestande waarskynlik nog vir weke in die landbousektor gevoel gaan word.

“Op die langtermyn gaan dit definitief ‘n negatiewe impak op die landbou hê.”

Volgens Jandre Bakker, woordvoerder vir die Wes-Kaapse departement van infrastruktuur, het die swaar reën en stygende riviere reeds tot verskeie padsluitings in die Weskus-distrik gelei. Teen gister, Woensdag 13 Mei, om 14:00 was talle paaie in onder meer die gebiede van Porterville, Citrusdal, Clanwilliam, Bergrivier, Goedverwacht en Redelinghuys gesluit nadat paaie, brûe en laagwaterdrifte oorstroom is.

Inwoners en motoriste is versoek om padsluitings streng te gehoorsaam en onder geen omstandighede deur oorstroomde paaie te ry nie.

Die departement monitor die situasie deurlopend, terwyl spanne op verskeie plekke werk om skade te beoordeel en toegang te herstel sodra dit veilig is.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article