Ek onthou dit soos gister, die gevoel van opgewondenheid, soos ‘n kleuter wat ‘n suigstokkie kry.
Opgewondenheid het ‘n manier om jou hoop te gee vir die lewe, soveel so dat jy van teleurstelling vergeet.
Ek is Mi-kayline Koopman, ‘n 20-jarige wat al soveel teleurstelling in die gesig gestaar het. Om te skryf is soos ‘n geneesmiddel vir my hart. Terloops, in 2025 het ek ophou skryf omdat die gevoel van teleurstelling vir my soos déjà vu begin voel het. In 2025 het ek aan my loopbaan as radio-aanbieder begin werk.
Snaaks genoeg, die oomblik as ek my goeie nuus met ander deel, tref teleurstelling my. Mense is geneig om te sê “ag, probeer weer, jy’s nog jonk”.
Ek is jonk, maar as julle my seer en opgeswelde oë as gevolg van teleurstelling aanskou het, sou julle my dalk beter verstaan het. My oë reflekteer my storie.
“Mi-kayline, jy het dan soveel selfvertroue’” – woorde wat altyd in my gedagtes afspeel, maar wat min verstaan, is dat ek ook maar net ‘n mens is. Die woord selfvertroue is ‘n geloof in eie vermoë , krag en waarde. Ek was onsuksesvol by talle radiostasies en later het ek besluit die vrees om as jongmens weer te probeer, maak seer.
Die vrees om weer te probeer affekteer jou as persoon, Dalk het jy dit nog nie ervaar nie. Wel, ek het. Die seer en teleurstelling was ook vir my ‘n les – om nooit tydlyne vir myself te gee nie, want dit kan jou gemoed affekteer. My droom was altyd om my eie televisieprogram op die ouderdom van 20 te hê en ook om die jongste aanbieder op televisie te wees. Terloops, vanjaar het ek 20 geword, maar ek is nog nie op die kassie te sien nie.
Die oë begeer soms dinge en dan pas jy dit op jou leefstyl toe.
Maar vra jouself die vraag: is dit my visie of ‘n gesteelde visie? Dalk is om ‘n aanbieder te wees nie vir my nie, maar die gevoel om weer te probeer, is pynlik. Die pyn het ook ‘n manier om my te laat verstaan dat alles reg is. Kom ek laat jou verstaan, die pyn breek jou; dit laat jou twyfel. Pyn laat jou minderwaardig voel. Maar vrees, dit is die dief wat jou soms van geluk beroof. Die vrees om weer te probeer, die vrees wat ander van my gaan dink. Wat min weet, is die volgende: ek is Mi-kayline Koopman en het die vrees oorleef. As jy vir altyd aan jou verlede gaan vashou, dan gaan jou toekoms nooit ‘n kans kan staan nie.
So, probeer weer, liewe jongmens, maar maak ruimte vir die konsep van teleurstelling.




