Kleinskaalse visserykoöperasies het die departement ontmoet om griewe te bespreek. Foto: Adrian Venter

Kleinskaalse visserykoöperasies het verlede Dinsdag (5 Mei) met Willie Aucamp, minister van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE), vergader om die uitdagings in die sektor te bespreek.

Aucamp het die regering se verbintenis tot volhoubare vissery, verbeterde bestuur, ekonomiese groei, werkskepping en groter ondersteuning vir vissersgemeenskappe herbevestig.

Die gesprek het gefokus op die vind van oplossings vir langdurige uitdagings, soos toegang tot visseryhulpbronne, deelname aan markte en medebestuur.

As deel van voortgesette ingrypings het die departement die nabykus-visvangseisoen vir Weskus-rotskreef vir kleinskaalse vissers tot Sondag 31 Mei heropen om vertragings met permitte en toekennings aan te spreek.

Volgens Hilda Adams, voorsitter van die Weskus Kleinskaalse Vissersforum, is hulle nie seker dat die heropening vir hulle tot voordeel sal wees nie omdat baie mense nog nie aangepaste kreefpermitte ontvang nie.

“Ons sukkel ook om ons uitvoerpermitte van DFFE te kry. Dis alreeds Mei, en ons mag nie naweke kreef vang nie. Die weer speel ‘n groot rol en gedurende die week kan die weer onstuimig wees, maar naweke is daar weer goeie weer vir see toe gaan. So dit is ‘n groot bekommernis.”

Adams meen die implementering van die beleid vir die kleinskaalse visserysektor in Suid-Afrika word tot dusver nie geïmplementeer nie en dat daar geen erns by die DFFE is om dit tot sy reg te laat kom nie.

“Ons sukkel nog te veel om reg te laat geskied aan die beleid vir die kleinskaalse visserysektor in Suid-Afrika. Ons het te min ekonomiese volhoubare spesies in ons mandjies van regte. Ons het perlemoen ontvang, maar kan nie aansoek doen vir die permit nie. Ons soek geregtigheid,” voeg Adams by.

Christian Adams, ‘n visser van Steenberg’s Cove by St. Helenabaai, meen die heropening beteken niks vir vissers nie omdat die departement nie sekere allokasie aangepas het nie. Adams meen die departement kommunikeer nie voldoende nie en gaan voort soos wat hy goed dink. “Daar is geen ondersteuning van die departement nie. Besluite wat geneem word, word nie in samewerking met die koöperasies geneem nie.”

Visserykoöperasies het dringende bekommernisse geopper en die regering versoek om die beleid vir die kleinskaalse visserysektor ten volle te implementeer en volhoubare bestaan te ondersteun. Hul voorleggings sal deur die departement oorweeg word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article