Vrou maak gou ‘n plan


Ná Weslander se aanlyn berig verlede week oor die nuwe neiging in Vredenburg van spaarwiel­diewe wat spesifiek Suzuki S-Presso’s en Renault Kwids teiken, het ‘n slagoffer met ‘n plan van haar laat hoor.

Bianca Coetzee het drastiese stappe geneem nadat diewe op Vrydag 6 Februarie by haar Suzuki S-Presso in Skoolstraat ingebreek het. Sy het die oggend net ná 10:00 by die gewilde Graze Eatery oorkant die Laerskool Vredenburg gesit en koffie drink en gewag dat die skool sluit om haar kinders te kry.

Die voertuig was in die parkeergebied tussen Graze Eatery en die munisipale kantoor geparkeer. Sy was omstreeks 13:30 terug by die motor en sien toe die bagasiebakdeur staan effens oop. Haar hart het ‘n slag gemis, want haar skootrekenaar en ‘n bedrag geld was ook in die bagasieruim. Met verdere inspeksie het sy besef dat iemand met die sleutelslot van die bagasiedeur gepeuter het. Die sleutelslot was beskadig en daar was ook skade aan die bakwerk van die voertuig rondom die sleutelslot.

Tot haar verbasing was haar skootrekenaarsak en geld nog in die bagasieruim, maar die spaarwiel is uit sy bêreplek verwyder en gesteel.

Beeldmateriaal gevind

Coetsee het na nabygeleë sakeondernemings gegaan om te vra oor kamerabeeldmateriaal van die voorval. Sy het wel kamerabeeldmateriaal by die munisipale kantoor gevind en omstreeks 14:45 het sy ‘n klag van diefstal by die Vreden­burg-polisiekantoor gaan aanmeld.

Volgens Coetzee het die polisie op Sondag 8 Februarie om 11:30 vingerafdrukke kom neem.

Die ondersoekbeampte in die saak het later aan Coetzee gesê hulle het die skuldige in haar saak vasgetrek met die vingerafdrukke wat gekry is.

As teenmaatreël het sy ‘n “dummy slot” oorweeg, soos wat baie haar aangeraai het, maar sy het weer daarteen besluit omdat diewe ook dié afskrikmiddel omseil om spaarwiele te steel.

Coetzee het besluit om drastiese stappe te doen en het haar bagasieruim se hele slot eers van die motor se sentrale sluitstelsel laat diskonnekteer. Hierna is dit uitgehaal en die gat toegesweis en oorgesprei. Dit lyk asof daar nog nooit ‘n sleutelgat was nie.

Volgens kol. Lindie Marx, die stasiebevelvoerder van die Vredenburg-polisie, is tien sake al aangemeld waar diewe dié twee fabrikate se luikrugdeure (hatchback doors) oopbreek en dan die spaarwiele en enige domkrag of ander toerusting waarop hulle hul hande kan lê, steel.

Die sake het in die parkeerterreine van die Weskus Mall, die Ipic-sentrum en in ‘n parkeerterrein in die middedorp voor dokterspreekkamers en naby die kruising van Hoofstraat en Breëstraat gebeur.

Volgens Marx word die diefstalle blitsig gepleeg. “Hulle ‘pop’ die bagasieruim se deur oop, maak die spaarwiel los en laat spaander.”

Die publiek se hulp word gevra om op die uitkyk te wees vir sulke diefstalle en die polisie onmiddellik in kennis te stel.

Die eienaars van Suzuki S-Presso’s en Renault Kwids moet by hul naaste handelaar uitvind oor moontlike voorsorgmaatreëls wat getref kan word, terwyl die polisieondersoek na die diefstalle voortgaan.

Die agterkant van ‘n Suzuki S-Presso en ‘n Renault Kwid.
Bianca Coetzee by haar Suzuki S-Presso sonder ‘n slot aan sy luikdeur. Foto: Noluvu Ludidi.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article