Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie:
Op Saterdag 25 April, die middag omstreeks 17:45, het Lorenzo Goedeman (19) na bewering vir Wayne Roman (34), albei van Eendekuil, met ‘n mes in die bors gesteek. Roman is op die toneel in Cheddarstraat oorlede. Goedeman het Dinsdag in die Piketberg-landdroshof verskyn op aanklag van moord.
’n Groep mans het Sinethemba Jaxa (25) van Ongegund, Vredenburg, op Sondag 26 April, die oggend omstreeks 02:00, met pangas en messe aangerand waarna hy op die toneel oorlede is. Niemand is nog vir die moord in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek die voorval.
Msindisi Ndumiso (29) van Middelpos, Saldanha, het Maandag 27 April in die hospitaal gesterf nadat hy aangeval is. Sy aanvaller is in hegtenis geneem en sal gedurende die week in die Vredenburg-landdroshof verskyn.
Op Sondagoggend (27 April) in Velddrif het ‘n man en sy pa in ‘n winkel in Watsoniastraat, Noordhoek, amok gemaak. Na bewering het die man se transaksie nie deurgegaan nie waarop hy die 21-jarige Ethiopiese klaer met klippe begin bestook het. Sy pa het na bewering ‘n stuk yster gevat en die veiligheidsdeur en ruit van die winkel gebreek. Hulle het na bewering sap en R6 000 gevat en gevlug. ‘n Saak van sakeroof word ondersoek.
‘n Ethiopiese man van 33 jaar oud moes mediese behandeling ontvang nadat ‘n ander uitlander hom Saterdagmiddag (25 April) met ‘n kinderfietsie oor die kop geslaan het. Die slaner wou na bewering nie vir goedere betaal nie. Die Piketberg-polisie ondersoek ‘n saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer.



