Buffel die worshond weer veilig tuis


Nà sy avontuur deur die Weskus, is Buffel die worshond weer veilig terug by die huis.

Buffel is sedert Saterdag 22 Maart in die Niewe Rust-area tussen Vredenburg en Paternoster as vermis aangemeld en is vanoggend op die Grootwaterklip-plaas in ‘n vanghokkie gevind.

Hy is op Dinsdag 21 April deur Gutter Innovations by die kruising tussen Velddrif en Vredenburg na St. Helenabaai-kruising gewaar, waar hy by ’n melkplaas ingedraai het in die rigting van melkstalle met ’n rooi dak. Maar hy het weer verdwyn.

’n Werkshond is ook ingespan om sy spoor te volg, maar dit is later verloor. Verskeie inwoners en selfs vragmotorbestuurders het reeds probeer help om Buffel op te spoor, maar sonder sukses.

Buffel is later ook op die plaas Waterklip, net buite Vredenburg op die Stompneusbaai-pad, gesien.

Volgens sy eienaar Elmarie de Clerck is die vanghokkie opgestel met die hoop om hom te vang.

Verskeie pogings om hom te nader in die areas waar hy gewaar is, was bemoeilik omdat hy bitter bang vir mense is. Buffel is ‘n aanneemhond wat nog nie lank by die De Clercks woon nie.

Buffel is weer veilig terug tuis met sy eienaar Elmarie de Clerck.

“Vanoggend, toe bel die vroutjie van Waterklip en vra my hoe vinnig ek kan deurkom, want my hond is in die vanghokkie? Ek was sé bly en verlig,” vertel Elmarie.

Die voorman van die plaas het haaringelig dat hy nie gister daar was nie, so hy kan darem nie te honger of dors wees nie.

Buffel lyk volgens haar heel uitstekend vir ‘n hond wat 34 dae in die “wild” oorleef het. Hy seker so ‘n kilogram verloor, maar hy lyk baie goed,” vertel De Clerck.

Met die swaar reën wat laas naweek geval het, het Buffel wat in die koue los rondgeloop het, die mense van die Weskus aangegryp. De Clerk was baie bekommerd oor hom gewees en kon snags nie slaap nie, want sy het wakker gelê van kommer oor hom. Sy het heeltyd gewonder waar Buffel slaap.

“Ek het gebid dat die Here hom moet bewaar in die koue. Ek is bly hy is terug. Dit was seker ‘n wonderlike reis gewees. Ek wens hy kon vir ons sê waar hy oral was.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article