‘n Byeboer in Hopefield het onlangs ‘n groot verlies as gevolg van gifstowwe tydens bestuiwing gelei, wat die dood van talle van sy bye veroorsaak het.
Volgens Robert Post, ‘n byeboer en bybedryfsverteenwoordiger in Malmesbury, word die Wes-Kaap gekenmerk deur ‘n verskeidenheid mikroklimaatsgebonde areas. Hy verduidelik daar is gebiede wat uiters geïsoleerd en baie droog is, en bo die kapok-lyn gevind kan word, terwyl ander gebiede baie reënval ontvang of heel gematigd is. As sulks verleen die provinsie hom tot ‘n verskeidenheid landbouprodukte, waaronder vrugte soos aarbeie, appels, pere en pruime.
“Plante benodig dikwels een of ander megansime waarmee hulle bestuiwing wil bewerkstellig ten einde produkte te vervaardig. Die meeste plant-gebaseerde produkte is dan ook die gevolg van geslagtelike voortplanting, wat dan aanleiding gee tot pitte of sade. Hierdie pitte is dan van kardinale belang ten einde vrugte te vervaardig. Soms is die sade belangriker as die vrugte,”verduidelik Post.
“Landbouprodusente van sulke gewasse huur heuningbye ten einde bestuiwing teweeg te bring – in die regte getalle, teen die regte gehalte en op die regte tydstip en plek. Die aanvraag vir bye vir hierdie werk vermeerder jaarliks, met nuwe kultivars en ‘n groter oppervlakte wat aangeplant word, ten einde voedelsekerheid en verskeidenheid te verseker.”
Wanneer dit kom by die onderskeiding van natuurlike verliese en chemiese skade, sê Post, natuurlike verliese is normaalweg die gevolg van vandalisme, predatoriese organismes, siektes ens. Sulke peste en plae se invloed is maklik diagnoseerbaar en hulle effek is goed bekend.
“Landbou-produksie is onderhewig aan ‘n risiko-verminderende stelsel. Aangesien byeboerdery ‘n vertakking van landbou is, geld die behoefte aan risikobeheer beslis ook. Voorkoming is dus aan die orde van die dag. Middels wat sterker is, sal die vlugby dalk doodmaak, op of naby die blom. Dit beteken dat die middel dus nie teruggebring word na die nes toe nie. Die dood van vlugbye beteken egter dat die kosbron afgesny word, wat bye in die korf van die honger kan laat sterf.
“Sterk insekwerende middels wat regstreeks op byekorwe gepuit word, kan lei tot grootskaalse sterftes – onmiddelik of oor ‘n langer termyn.”
Helena van der Westhuizen, die eienaar van Simply Bee, is ook afhanklik van bye en sê bye is die hart van alles wat hulle doen.
“Die bewaring van bye is vir ons uiters belangrik. Vir ons is dit die fondasie van ons hele besigheid. Vir ons is dit belangrik om die bewaring van bye te verbeter. Ons oes drie produkte van bye af, net dit wat ons nodig het, en raak nooit aan of oes nooit van ons broeikaste nie. Ons is ook bevoorreg dat ons bye in die fynbos staan wat beteken hulle is nie naby gifstowwe nie.”
Van der Westhuizen voeg by dat daar kommunikasie moet wees tussen byeboere en dié wat bestuiwing gebruik om sodoende die lewens van bye volhoubaar te hou.
Van der Westhuizen deel die volgende wenke om bye te bewaar:
◘ Plant by-vriendelike blomme;
◘ Vermy skadelike plaagdoders;
◘ Sit ‘n vlak waterbron uit;
◘ Skep ‘n klein, veilige habitat in jou tuin; en
◘ Ondersteun etiese, volhoubare produkte.
Elke klein optrede maak ‘n groot verskil, sê Van der Westhuizen.





