Raadslid Albert Earle (60) van die Bergrivier- munisipale raad is die afgelope Saterdag (11 April) ná ‘n lang gesondheidstryd oorlede.
Volgens sy familie was Earle ‘n nede- rige mens met ‘n sagte hart. Hy het gelewe vir sy gemeenskap, was lief vir die Patriotioc Alliance (PA) en ook verskriklik lief vir sy vrou en familie.
“Die beste herinnering is dat hy mense altyd met ‘n boodskap van hoop gelaat het. Sy woorde was altyd ‘God sal altyd voorsien’. Albert sal altyd onthou word vir hoe hy in wind en weer met sy vrou die PA in Noordhoek help bou het. Sy vrou onthou ook hoe hy alles gedoen het om haar eerste in sy lewe te stel,” sê die familie.
Hulle sal sy teenwoordigheid, sy telefoonoproepe en sy woorde en bemoediging met ‘n Bybelvers altyd onthou en koester.

Earle was sedert 2021 betrokke by die PA en het in September 2025 raadslid van Bergrivier-munisipaliteit vir die PA geword waar hy op verskillende kommittees by die raad gedien het.
Earle was destyds in die weermag en het daarna by die polisie in Gauteng aangesluit. Hy het in 2014 na die Wes-Kaap verhuis het en in Riversdal ge- werk. Hy het in die jaar 2015 Weskus toe getrek en was in Noordhoek woonagtig.
Die Bergrivier-munisipaliteit betuig sy diepste meegevoel aan sy gesin, familie, kollegas en vriende.
“Die oorlede raadslid Earle sal onthou word as ‘n merkwaardige individu wie se vriendelikheid, krag en toewyding die lewens van baie geraak het. Sy deursettingsvermoë te midde van uitdagings, en sy onwrikbare toewyding aan sy werk in die gemeenskap het deur sy hele lewe duidelik gebly en as ‘n inspirasie gedien vir almal wat hom geken het,” sê die munisipaliteit.
“Gedurende hierdie tyd van diep verlies is ons gedagtes by sy gesin, uitgebreide familie, kollegas en vriende. Mag julle krag, vertroosting en vrede vind in die gekoesterde herinneringe wat julle met hom gedeel het.”
Ray van Rooy, burgemeester van die Bergrivier-munisipaliteit, het met Weslander gedeel dat Earle ‘n mens was wat altyd na sy medemens omgesien het.
“Hy was iemand wat baklei het vir sy gemeenskap. Hy was ‘n man van min woorde, maar baie dade en dis hoe ek hom sal onthou. As burgemeester het ek opgekyk na hom en sal hom lank in my gedagtes saamdra.”
Earle laat agter sy vrou, Martie, sy dogter, Susan Loock, drie kleinkinders en ‘n breë gemeenskap wat baie op hom staatgemaak het.





You must be logged in to post a comment.