Skryf nóú in vir die Stir Weskus-kookkompetisie vir hoërskoolleerders.

Om deel te wees van die STIR Weskus se kookkompetisie gaan oor baie meer as net die voorbereiding van kos.

Soos Weslander in vorige berigte oor die kompetisie uitgelig het, lê die kern van STIR Weskus in jeugontwikkeling, praktiese leer en die bou van selfvertroue by tieners.

Volgens Lientjie Blok, een van die organiseerders, skep dit ‘n geleentheid vir tieners om belangrike lewensvaardighede te ontwikkel, wat in verskeie aspekte van hul lewens gebruik kan word.

Dit bied tieners wat tussen 2007 en 2011 gebore is, ‘n platform om nie net kreatief te dink en hulself uit te druk nie, maar bo alles om selfvertroue, dissipline en persoonlike groei te ontwikkel.

Hierdie elemente word beklemtoon as van die belangrikste uitkomste van die program.

“Baie meer steek in hierdie kompetisie as net die blote kookervaring. Dit help tieners om meer selfversekerd te voel – nie net in die kombuis nie, maar ook in ander situasies waar hulle hulself moet bewys. Vorige deelnemers het dit gereeld as ‘n belangrike voordeel van deelname bestempel. Omdat ‘n gereg binne ‘n beperkte tyd beplan en voltooi moet word, vereis dit beplanning, goeie tydsbestuur en noukeurige uitvoering.”

Volgens Blok verloop dinge nie altyd volgens plan nie. “ ’n Gereg kan misluk of ‘n bestanddeel kan ontbreek. Dan moet die deelnemers vinnig dink en alternatiewe oplossings vind. Hierdie vermoë om aanpasbaar te wees en besluite onder druk te neem, word telkens in vorige stories oor die kompetisie as ‘n sleutelvaardigheid wat jongmense ontwikkel, beklemtoon. Voorbereiding, oefening en die hantering van terugslae is deel van die leerproses wat jong mense toerus om nie maklik moed op te gee nie, maar aan te hou totdat hulle hul doelwitte bereik.

Tieners se kreatiwiteit word ook sterk bevorder. Deelnemers kry die geleentheid om met verskillende bestanddele en tegnieke te eksperimenteer en unieke geregte te skep. Bowenal help die kompetisie om dissipline en deursettingsvermoë te ontwikkel.

STIR Weskus se uitdunrondes en­ die eindronde gaan by die Longacres- private skool plaasvind, met Weslander as mediaborg en Bekker-plaasprodukte wat die produkte gaan voorsien.

Moenie jou kans verbrou nie.

Inskrywings sluit op Donderdag 30 April.

Gebruik die skakel op STIR Weskus se Facebook- of Instagram-blad om in te skryf, of stuur e-pos na stirweskus@gmail.com vir nog besonderhede.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article