Mike Bolhuis praat by die Velddrif- sakekamer se jaarvergadering oor kubermisdaad. Foto’s: Velddrif-sakekamer

Die bekende Mike Bolhuis het lede en gaste van die Velddrif-sakekamer verlede Donderdag (19 Maart) by hul jaarvergadering toegespreek. Dié deurwinterde ondersoeker het veral gefokus op die groeiende bedreiging van kubermisdaad vir plaaslike ondernemings en inwoners.

Die aand by die Soverby Lapa is geopen met skriflesing en gebed, waarna die voorsitter, Johnny da Silva, ‘n oorsig van die afgelope jaar gegee het. Hy het beklemtoon die Sakekamer se kernvisie is om plaaslike sakeondernemings te verbind en samewerking te bevorder.

Volgens Da Silva kan Velddrif, as ‘n toerismedorp, nie slegs op seisoenale inkomste staatmaak nie. “Wêreldgebeure raak selfs die kleinste onderneming. Plaaslike ondernemings moet saamwerk om volhoubare groei te verseker.”

Hy het ook verwys na voortgesette gesprekke tussen die sakekamer en die Bergrivier-munisipaliteit rakende honde-vriendelike restaurante, ‘n kwessie wat beide wetlike vereistes en toerismebelange raak. Sakelui word aangemoedig om betrokke te raak en oplossings te bou, wat Velddrif aantreklik hou.

Die sakekamer beplan verder om die komende maande gefokusde netwerkgeleenthede vir sektore soos gasvryheid, restaurante en klein ondernemings aan te bied om samewerking te versterk.

Tydens die geleentheid is plaaslike ondernemings vir uitnemendheid vereer, met meer as 1 100 benoemings wat ontvang is, ‘n duidelike bewys van sterk steun vir ondernemings in die dorp.

Ná die formele verrigtinge en aandete het Bolhuis die gehoor aangegryp met insiggewende en onrusbarende feite oor kubermisdaad, ‘n bedreiging wat hy beskryf as een van die grootste risiko’s vir ondernemings.

Hy het beklemtoon dat kubermisdadigers hoogs georganiseerd en professioneel werk, met diepgaande kennis van bankstelsels en digitale toestelle. Volgens hom is Suid-Afrika ‘n maklike teiken, met slegs ‘n klein persentasie suksesvolle ondersoeke en vervolgings.

Bolhuis het spesifiek gewaarsku dat klein en medium ondernemings al meer geteiken word, dikwels deur mense met binnekennis, soos voormalige werknemers. Hy het die belangrikheid van integriteitstoetse, leefstyloudits en goeie interne beheermaatreëls beklemtoon.

Verder het hy uitgewys hoe maklik persoonlike en sake-inligting bekom kan word selfs deur weggegooide dokumente. Hy het vertel van kinders wat deur misdadigers betaal word om dokumente op ashope op te tel.

So word toegang verkry tot rekeningnommers, bankstate, polisdokumente en ander persoonlike dokumente. Hy het elkeen aangeraai om sensitiewe dokumente te versnipper eerder as om dit net weg te gooi. Hy het ook die kwesbaarheid van kinders, vroue en bejaardes uitgelig en sakeondernemings en ouers aangemoedig om digitale risiko’s te leer ken.

“Een verkeerde klik kan ‘n deur oopmaak, wat groot finansiële skade kan veroorsaak.”

Bolhuis het afgesluit met ‘n praktiese boodskap: In enige krisissituasie moet mense kalm bly en ingeligte besluite neem eerder as om emosioneel te reageer, ‘n beginsel wat volgens hom net so belangrik is vir sakeondernemings as individue.

• Nog inligting en foto’s van al die wenners is beskikbaar op die Velddrif-sakekamer se webtuiste.

Afdeling-wenners

• Landbou: Kliphoek-boerdery

• Gemeenskapsbetrokkenheid: Velddrif-buurtwag

• Opkomende onderneming: Pencils for Smile

• Finansies, regsake, rekenaars en tegnologie: Kim Pistor Attorneys

• Front of House: Bianca du Toit

• Gesondheid en welstand: Smart Health Clinic

• Gasvryheid en toerisme: 3DOM & Co

• Vervaardiging en energie: Nu Dimensions

• Openbare dienste: AO Adele Visser

• Eiendom: Property.CoZa Extreme

• Kleinhandel: Sandboskraal

• Dienste: Bergrivier-aanbiddingsentrum

Madeleine Da Silva, Stephan Viljoen, Johnny Da Silva, Kim Pistor en Tiaan du Plooy met die toekennings wat hulle vir uitnemendheid ontvang het.

AO Adele Visser is erken vir uitstaande openbare diens en toewyding aan die gemeenskap. Bo is sy saam met Johnny Da Silva, die voorsitter van Velddrif-sakekamer.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 30 April 2026
    Weslander E-Edition – 30 April 2026

Gift this article