In die gees van Maatskaplike- werkersmaand het Solidariteit Helpende Hand (SHH) verlede week ‘n insiggewende en emosionele inligtingsessie by die Gerimed-aftree-oord aangebied, waar die onmisbare rol van maatskaplike werkers en gemeenskapsdiens beklemtoon is.
Die sessie op Donderdag 19 Maart is geopen met ‘n besondere oomblik toe Elma Vertue, streekbestuurder van SHH, ‘n gedig voorgelees het wat die liefdeswerk en opoffering van maat-
skaplike werkers vereer. Die gedig, opgedra aan Lizelle de Jager, SHH se maatskaplike werker in die Weskus, het die gehoor diep geraak en die emosionele kern van hierdie beroep beklemtoon.
Vertue het gesê Maatskaplike Werkers-maand is ‘n geleentheid om erkenning te gee aan dié wat daagliks hulself gee om ander op te hef. Sy het uitgewys hoe maatskaplike werkers nie net ondersteuning bied nie, maar ook hoop herstel in gemeenskappe waar nood en uitdagings groot is.
Die inligtingsessie volg kort op die opening van SHH se Ons Winkel in Oostewalstraat, Langebaan die 34ste tak in die Wes-Kaap.
Die winkel, onder leiding van Lynette Op’Thof, vervul ‘n belangrike rol om geld vir plaaslike projekte en hulpinisiatiewe in te samel.
Alisha de Lange, die streeksorganiseerder van SHH in die Wes-Kaap, het die sessie gelei en ‘n oorsig gegee van die organisasie se doelwit om gelyke geleenthede vir almal te skep. Sy het vertel van verskeie projekte wat op die steun van bejaardes, kinders en mense met gestremdhede fokus.
De Lange het ook met deernis verhale gedeel van kinders wat dikwels slegs een maaltyd per dag by die skool ontvang. Sy het verduidelik hoe SHH se Help Jag-projek ‘n tasbare verskil maak, waar jagters aangemoedig word om ‘n ekstra bok te skiet wat na skole in nood verwerk en versprei word.
“Een eland kan tot 83 kinders voed,” het sy verduidelik.
Die sessie het nie net inligting oorgedra nie, maar ook harte aangeraak – ‘n kragtige uitbeelding van mense wat omgee en daarvolgens optree.






