Shevon Boltman is die stigter en bestuurder van die Saldanha Ouetehuis, ‘n instelling sonder winsoogmerk en wat sedert 2020 ‘n veilige tuiste vir kwesbare bejaardes in die gemeenskap bied. Wat as ‘n roeping begin het, het oor die jare tot ‘n voltydse verantwoordelikheid ontwikkel, wat nie net toewyding nie, maar ook deursettingsvermoë verg.
Die ouetehuis moes in Oktober 2025 na ‘n nuwe perseel verhuis nadat die eiendom verkoop is. Tans huisves die sentrum nege inwoners met vyf geregistreerde versorgers, wat daagliks na hul welstand omsien. Volgens Boltman ontvang die ouetehuis geen staatsubsidie nie en is volledig afhanklik van inwoners se bydraes en sporadiese skenkings.
“Ons lopende uitgawes verhoog gedurig en inwoners val weg en kan nie altyd dadelik vervang word nie. Dit laat ‘n groot gaping,” verduidelik sy.
Die grootste uitdagings lê in die daaglikse basiese behoeftes. Voedselprodukte soos brood, melk, vars vrugte, groente en vleis vul ‘n beduidende deel van die uitgawes. Daarby kom munisipale rekeninge, gas, brandstof, skoonmaakmiddels, wasgoed en die salarisse van versorgers – alles noodsaaklik om ‘n waardige lewensgehalte vir inwoners te verseker.
Ten spyte van die finansiële druk, bly Boltman se passie onwrikbaar. Sy glo elke bejaarde verdien respek, sorg en ‘n plek waar hulle veilig en geliefd kan voel.
Die ouetehuis ontvang van tyd tot tyd ondersteuning uit die gemeenskap.
“Ons kry skenkings van die kerk en het onlangs komberse en warmwaterbottels by ‘n organisasie in Vredenburg ontvang. Ons is opreg dankbaar vir enige vorm van hulp,” sê sy.
Met beperkte hulpbronne, maar ‘n groot hart, bly Boltman en haar span daagliks toegewyd om hul inwoners met waardigheid en deernis te versorg.
• Om Boltman in haar passie vir bejaardesorg te steun, kontak haar by 078 541 1531.




