Vredenburg Saldanha Krewe het Sondag (22 Maart) na Paarl gereis om die Paarl-krieketklub (KK) in sy agterplaas aan te durf. Die Krewe het die opwindende wedstryd met een lopie gewen
Nadat die Krewe die loot gewen het, het hulle besluit om eerste te kolf en ná goeie vennootskappe het hulle 260/7 in hul togelate 50 boulbeurte aangeteken.
Devon Smith se onoorwonne beurt van 90* (nie uit nie) van 57 balle het ses grenshoue en sewe sesse ingesluit.
Cecil Jooste se 41 van 59 balle was die tweede hoogste telling van die Krewe en het twee viere en een ses ingesluit. Ruben Klaase het 38 lopies met 84 balle behaal, terwyl Charlton Villet ook ‘n waardevolle bydrae van 36 lopies van 41 balle gemoker het, wat vier viere en een ses ingesluit het.
Waylin September was Paarl KK se beste bouler met ‘n boulontleding van 2/27 terwyl Taywin Adams ook goeie ondersteuning verleen het deur 2/61 te neem.
Paarl KK het die teiken van 261 lopies gejaag, maar is beperk tot 259/6 lopies, een lopie te min om gelyk te trek en twee te min vir ‘n oorwining. Juanrico Vorster het ‘n moedige 70 (95b) behaal, wat drie viere en drie sesse ingesluit het. Herscelle Poggenpoel se onoorwonne 50-tal, 57* (71b), het met vier viere en twee sesse goeie ondersteuning verleen.
Thandani Majebe het egter Paarl se kolwers geknoop met sy 3/63, terwyl Leighton Goeida ook goeie ondersteuning verleen met sy bydrae van 2/36 en het saam met Majebe toegesien dat Paarl net 259 lopies kon behaal, wat twee lopies te min was en die Krewe ‘n oorwinning van een lopie besorg het.
VBS Krewe speel nou hul laaste wedstryd van die seisoen op Krewepark teen die Victorians op 28 Maart. ‘n Oorwinning sal hul seisoen op ‘n hoë noot afsluit vir die 2025/26-seisoen.




