‘n Plaaslike boer sê die verdagtes wat verlede week by die aanval op Hugo Louw (56) langs die Lambertsbaai-pad betrokke is, is al lank ‘n probleem in die omgewing.
Louw, ‘n boer en ook ‘n gewilde sanger en storieverteller, is verlede Donderdag (5 Maart) wreed deur ‘n groep mans langs die Lambertsbaai-pad (R365) naby die Wadrif-plaas aangeval. Hy is met ‘n stomp voorwerp oor die kop geslaan, wat ernstige kopwonde veroorsaak het, en boonop is sy hande verskeie kere met messe gesteek soos hy probeer keer het.
Louw is in ‘n kritieke toestand per helikopter na ‘n Kaapse hospitaal geneem, waar hy steeds aansterk. Hy sal nog verskeie operasies moet ondergaan.
Louw wou sy aanvallers glo ‘n saamrygeleentheid gee, maar het met die opklim van die mans agterop sy bakkie onraad vermoed oor die inhoud van die sakke wat hulle by hulle gehad het.
Hy het hulle glo gevra wat in die sakke was, waarop hulle hom begin aanrand het. In die sakke was glo vleis van ‘n geslagte, vermoedelik gesteelde skaap.
Ian Turner van die bekende Muisbosskerm opelug restaurant en die Malkoppan-gasteplaas, sowat 4 km suid van Lambertsbaai op die Leipoldtville-pad, het aan Weslander gesê die vermoede is die vermeende aanvallers kan moontlik verbind word ‘n reeks probleme in die Leipoldtville-omgewing.
Koperdiefstal en veediefstal daar het glo hand-uit geruk totdat die vermeende hoof- steler Lambertsbaai toe getrek het. “Toe sit ons hier met Leipoldtville se probleem.”
Turner sê verskeie boere in die omgewing word al maande lank deur dieselfde groep geteister. “Ek self loop ook al van November af onder dieselfde diewe wat Hugo aangeval het, deur.”
Turner voeg by dat boere self moes help om die verdagtes op te spoor. “Ons boere moes die spoor van die skelms vat en hulle uiteindelik opspoor waar hulle ná die aanval nie ver van Hugo se voertuig af nie weggekruip het.”
Dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, het Maandag tydens die hofverskyning van die verdagtes, Clive Boois (27), Marlon Booysen (24) en Anthony Storm (28), gesê “As jy ‘n boer aanval, gaan jou gat nie weer die son sien nie.”
‘n Groot groep boere, inwoners en belangstellendes het by die rondgaande hof in Lambertsbaai opgedaag.
Volgens kapt. Tania Helfrich, distriks- woordvoerder vir die Weskus-polisie, het Boois, Booysen en Storm almal vorige veroordelings. Hulle staan tereg op aan- klagte van poging tot moord, diefstal uit ‘n motorvoertuig en veediefstal.
“Ek was ook vandag buite die hof, maar net sowat 15 van ons is toegelaat om die hofverrigtinge by te woon,” het Turner gesê.
Turner beskryf Louw as ‘n Sandvelder in murg en been.
Helfrich het bevestig dat die verdagtes bloedbevlekte klere aangehad het waar hulle naby die plek waar ‘n geslagte skaap in die bosse versteek is, weggekruip het.
Meyer het tydens sy toespraak van agterop ‘n bakkie gesê hoewel die saamtrek ordentlik en beskaafd was, dit ook ‘n hartseer en ontstellende gebeurtenis is.
Hy meen dit is nou tyd om saam met die boere ‘n boodskap aan die parlement te stuur.
“ ’n Aanval op ‘n boer is ‘n aanval op die ekonomie van die Wes-Kaap. Wanneer ‘n boer aangeval word, word voedselseker- heid bedreig.”
Volgens Meyer dui syfers wat hy onder oë gehad het, daarop dat 43% van alle werkende mense in die Weskus direk of indirek by die landboubedryf betrokke is. “Wanneer ‘n boer aangeval word, raak dit sy familie, sy werkers en sy boerdery direk.”
Hy het ook daarop gewys dat verteenwoordigers van die Weskus-distriksmunisipaliteit by die hof was.
Die groep mense het juis die dag saamgetrek om borgtog teen te staan, maar Boois, Booysen en Storm het hul borgtogaansoek laat vaar.
Hulle verskyn weer op Maandag 25 Mei in die hof. Die saak is vir verdere ondersoek uitgestel.






