Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie.
Slippersbaai, St. Helenabaai – Lorenzo Lindeveldt (18) is aangekeer vir ‘n huisroof op Donderdag 5 Februarie om 06:25. Volgens die klaer was sy in die kombuis toe Lindeveldt en ‘n makker haar na bewering met ‘n vuurwapen gedreig en met twee selfone gevlug het. Die polisie ondersoek ‘n huisroof.
Diazville, Saldanha – Lesley Williams (18) is op Woensdag 4 Februarie om 00:40 in Galjoenstraat doodgeskiet. ‘n Moordsaak word ondersoek.
Vredendal – Lenka Qhanya (39) het op Sondag 8 Februarie in die hospitaal gesterf nadat hy agter sy linkerskouer met ‘n mes gesteek is. ‘n Moordsaak word ondersoek.
Diazville, Saldanha – ‘n 30-jarige man is op Donderdag 5 Februarie om 00:05 in sy bed in die gesig geskiet. Die aanvallers was in swart geklee en hul gesigte bedek. Daar word ondersoek ingestel na ‘n poging tot moord.
Moorreesburg – Jason Jonas (24) het op Maandag 9 Februarie in die hof verskyn nadat hy glo sy eks-meisie (22) op Woensdagaand 4 Februarie voor ‘n aankomende voertuig op die N7 ingestamp het. Sy kon betyds wegkom en is nie beseer nie. Daar word ondersoek ingestel na ‘n poging tot moord.
Malmesbury – Die polisie het op Saterdag 7 Februarie omstreeks 23:50 op ‘n klagte van ‘n bakleiery in Dahliastraat gereageer. Die 24-jarige slagoffer is in sy linkerkakebeen beseer. Angelo Fortuin (37) het op Maandag 9 Februarie in die hof verskyn op aanklag van poging tot moord.
Malmesbury – Garth Snell (40) is op Dinsdag 3 Februarie vasgekeer nadat hy glo gepoog het om 38 sakkies dagga aan iemand by die Malmesbury-gevangenis te gee. Sy hofverskyning was op Woensdag 4 Februarie. Daar word ondersoek ingestel na ‘n poging tot oordrag van dagga.
Eendekuil – Llewelleyn Sias (29) het op Maandag 9 Februarie in die hof verskyn nadat hy Donderdagnag 5 Februarie na bewering ‘n polisiebeampte met ‘n skêr wou steek. Daar word ondersoek ingestel na ‘n poging tot moord.
Vanrhynsdorp – ‘n 24-jarige vrou sal op Woensdag 18 Februarie in die hof verskyn nadat sy op Sondag 8 Februarie om 17:15 glo met twee sjokolades uit ‘n winkel wou hardloop. Die polisie ondersoek ‘n winkeldiefstal.
Clanwilliam-omgewing – Twee skape is tussen Saterdagaand 7 Februarie en Sondagoggend 8 Februarie van ‘n plaas af gesteel. In dieselfde tydperk is 11 skape op ‘n ander plaas in die gebied gesteel. Daar word ondersoek ingestel na veediefstal.
Chatsworth, Malmesbury-omgewing – ‘n Bonsmara-bul ter waarde van R50 000 is op Donderdag 29 Januarie saam met drie koeie van ‘n plaas gesteel. Die drie koeie is teruggevind, maar nie die bul nie. Daar word ondersoek ingestel na veediefstal.


