Huis Wittekruin nooi almal na hul jaarlikse basaar, wat vanjaar op Vrydag 6 Maart om 15:00 by die hoofgebou gehou word. Dit is ‘n geleentheid vol geurige kos, handwerk, boeke en pret vir die hele gesin.
‘n Wye verskeidenheid lekkernye sal te koop wees, soos afval (R60 vir 500g), harder met varsgebakte brood (R30), kerrie en rys (R50 vir 500g), slaptjips (R10), boereworsrolle (R35), jaffels (R25), pannekoek (drie vir R20), poeding (R25), vleistafel (skaapvleis; R100/kg), wors (R90/kg) en lewerkoekies (R10 elk). Dan is daar ook nog wildspasteie, ‘n vars groente- en vrugtetafel, ‘n teetuin, koeldrank en wyn beskikbaar.
Handwerk en boeke sal ook te koop wees.
Die geld wat deur die basaar ingesamel word, gaan direk terug na die instandhouding van Huis Wittekruin. Die geld sal gebruik word om gange en kamers netjies te maak, nuwe krane in kamers te monteer en wasbakke en toilette te vervang. Hierdie verbeterings verhoog die gemak en gehalte van diens vir die inwoners.
Die nuwe krane, wat makliker vir inwoners met beperkte handkrag gebruik kan word, kos tussen R400 en R600 elk, en die algehele koste vir ‘n gang beloop ongeveer R60 000 tot R70 000 na gelang van die grootte en wat vervang moet word.
Huis Wittekruin sien daarna uit om die gemeenskap te verwelkom en saam ‘n prettige dag vir ‘n goeie doel te geniet. Skakel 022 713 2230 vir nog inligting.





