Die munisipale verkiesing in November vanjaar voel ver, maar die aanloop daartoe het reeds momentum begin kry.

Die Weskus is ‘n spogprys vir enige party en juis daarom moet inwoners baie versigtig wees om met emosionele opsweping en politiekery hulle te laat lei in die groot besluit oor waar om hul kruisies te trek.

Weslander wil opnuut ons lesers verseker van ons verbintenis tot regverdige, gebalanseerde en verantwoordelike verslaggewing. Dit is ons plig om julle objektief in te lig, sonder om partydig op te tree of enige politieke party, kandidaat of groepering te bevoordeel.

Weslander het nog nooit nie, en sal nie as spreekbuis vir enige party dien nie. Ons fokus ons beriggewing op feite, konteks en die reg van kiesers om ingeligte besluite te neem.

Politieke partye sal, wanneer kwessies opduik wat ‘n spesifieke party of partye raak,’n billike kans kry om hul standpunte te stel, mits dit binne die raamwerk van joernalistieke etiek, akkuraatheid en openbare belang geskied.

In ‘n tyd waarin waninligting ongelooflik maklik op sosiale media as waarheid versprei word, moet mense baie meer eng kyk na wat hulle goedsmoeds glo. Politici is geskiedkundig meesters in manipulasie van die menigte.

Ons bly verbind tot ons lesers en ons mandaat om op ‘n regverdige en verantwoordbare wyse ‘n stem vir die gemeenskappe van die Weskus te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article