Inwoners word gemaan om te alle tye waaksaam te wees.

Die aanval helder oordag op ‘n bejaarde inwoner van Vredenburg het talle inwoners bekommerd gelaat. Die voorval het op Sondag 1 Februarie net na 12:00 in Louwstraat, Vredenburg, plaasgevind.

Volgens die slagoffer se seun, Derek Kidson, het sy ma ‘n liefde vir stap, en om haar in dié toestand te sien ná die voorval was ‘n groot skok. Sy ma het van die Shoprite-gebied gestap toe sy deur twee verdagtes beroof en aangerand is.

Sammy Springleer van die Oudorp-buurtwag het verduidelik die verdagte het die slagoffer van agter genader en haar handsak met geweld gegryp. Hy het haar op die grond neergegooi. “Gevolglik het sy beserings aan haar gesig en lyf opgedoen. Dit was met bloed bedek. Haar persoonlike besittings, insluitend haar ID, bankkaarte en ander artikels, is gesteel. Dit is bevestig dat die misdaad deur twee verdagtes gepleeg is, met een wat as medepligtige opgetree het,” vertel Springleer.

Die verdagtes het in Houtstraat in die rigting van die taxistaanplek ontsnap, ‘n bekende ontsnappingsroete. “Hierdie lafhartige en hartelose daad beklemtoon die groeiende kommer oor veiligheid in en om ons middestad. Ons kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is om te alle tye waaksaam en bewus van jou omgewing te bly wanneer jy in die dorp stap nie. Die teenwoordigheid van onaangename karakters wat in die gebied rondloop, het aansienlik toegeneem.”

Kidson meen inwoners moet waaksaam wees en nie alleen stap nie. “Die dae is verby toe ons net vinnig winkel toe kon stap. Ons buurtwagte het steeds mense nodig om betrokke te raak en om hul buurtwag te laat weet wanneer daar mense in die gebied is wat nie daar hoort nie.”

Springleer voeg by dat baie lede van die gemeenskap, veral vroue en bejaardes, nou vrees om selfs kort afstande te loop en gedwing word om op voertuie staat te maak vir hul veiligheid. “Dit is diep kommerwekkend dat wetsgehoorsame inwoners gyselaar gehou voel deur misdadigers wat geen respek vir lewe of waardigheid toon nie.”

Kapt. Tania Helfrich, distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, gee die volgende veiligheidswenke:

• Moenie alleen loop nie; kry iemand om saam met jou te stap.

• Moenie met jou selfoon in jou hand loop nie, ook nie terwyl jy vir ‘n saamrygeleentheid wag nie. Wees te alle tye waaksaam.

• Meld misdaad onmiddellik aan, moenie wag nie. Die booswigte kan dalk nog in die omgewing wees en vinnig vasgetrek word.

• Terwyl jy inkopies doen, bêre jou selfoon en moenie jou handsak in die waentjie sit terwyl jy na die goedere kyk nie.

• Met oorfone in jou ore terwyl jy stap kan jy nie hoor wat om jou aangaan nie; wees altyd bewus van jou omgewing.

• Probeer om nie groot bedrae kontant by jou te dra nie.

• Hou jou voertuigsleutels gereed in jou hand wanneer jy jou voertuig nader, anders raak jy maklike ‘n teiken.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 12 March 2026
    Weslander E-Edition – 12 March 2026

Gift this article