Die dood van ‘n geliefde St. Helenabaai-inwoner het as ‘n groot skok gekom.
Die nutsman, Jan Olivier (55), bekend vir sy instandhoudingsonderneming, JanKan!, is op Vrydag 23 Januarie oorlede ná ‘n motorbotsing in die Hoofstraat van St. Helenabaai.
Die ongeluk het op Dinsdag 20 Januarie omstreeks 17:30 plaasgevind toe Jan regs in die hoofpad in die dorp met sy wit Volkswagen Golf ingedraai en ‘n polisievoertuig daarteen vasgery het.
Olivier is op die toneel deur nooddienste behandel en na die hospitaal geneem. Hy is egter ná drie dae ontslaan, maar hy het ure nadat hy by die huis gekom het, gesterf. Volgens ‘n bron vermoedelik weens inwendige bloeding.
Volgens sy vrou, Rachelle Olivier, was haar man ‘n mense-mens. Een wat nooit geskroom het om ander te help nie.
Die paartjie was drie jaar en elf maande getroud en Rachelle beskryf hom as een wat baie lief was vir sy familie en dié rondom hom. “Ek het al so baie boodskappe ontvang, wat die impak wys wat hy op ander se lewe gehad het. In my kop weet ek hy is weg, maar in my hart nie.” Rachelle gee die Here al die eer vir die tyd wat hulle twee saam kon deurbring. “Ons tyd is nie die Here se tyd nie. Ek weet hy is by die Here en die Here kyk na hom.”
Volgens Tania Helfrich, distriks-woordvoerder vir die Weskus-polisie, word die verslag oor die lykskouing afgewag. Die polisie se provinsiale ongeluk-reaksiespan was op die ongelukstoneel en daar word ook op hul verslag gewag. Die gedenkdiens is op Vrydag 30 Januarie om 10:00 in die Weskus-gemeentekerk in Vredenburg.






