Beskadigde waterpype toon duidelik die asbesvesels. Foto: Danie Hefers
Beskadigde waterpype toon duidelik die asbesvesels. Foto: Danie Hefers

ST HELENABAAI – Is die Agterbaai se drinkwater dalk met skadelike asbesvesels besoedel?
Dit is die vraag wat bekommerde inwoners in die bekende Weskusdorp, St. Helenabaai, vra ná herhaalde pypbarste wat gefrustreerde huishoudings en sakelui deesdae gereeld vir ure sonder water of met lae waterdruk in huiskrane laat.

Maar hoekom die kommer oor moontlike asbesbesoedeling in die dorp se water?

Volgens Gerhard Snyman, ‘n inwoner van die Lampiesbaai-woonbuurt, het hy onlangs foto’s geneem van die toneel waar herstelwerk aan die hoofvoorsieningspyplyn langs die R399-pad na Vredenburg en Velddrif, buite die dorp, gedoen is ná ‘n pypbars. Dié foto’s het vrae laat ontstaan of die pyp moontlik van asbes vervaardig is óf asbes bevat.

Kosbare water. Gerhard Snyman van Lampiesbaai maak sy tuinplante nat. Foto: Danie Hefers
Kosbare water. Gerhard Snyman van Lampiesbaai maak sy tuinplante nat. Foto: Danie Hefers

Snyman, wat sedert 2020 in die Lampiesbaai-woonbuurt bly, sê hy het reeds in 2023 vrae begin vra nadat hy inligting by ‘n voormalige SBM-werker gekry het oor die dorp se bestaande infrastruktuur. “Hy het gesê die Weskus-distriksmunisipaliteit (WKDM) se hoofvoorsieningspyplyn wat water na St. Helenabaai voer, bevat asbes. Ek weet nie hoeveel asbes nie, maar dit maak my nogtans bekommerd. Dit is drinkwater. Dit kan gevaarlik wees.”

Weslander het daarna sélf die toneel besoek. Die gat waar die pypbars met plastiek herstel is, was steeds nie toegegooi nie en pypstukke het oral rondgelê. Weslander het ván die stukke na ‘n kenner van sementprodukte in Vredenburg geneem, wat  meen die pypstukke is ongetwyfeld ‘n mengsel van sement en asbes.

Munisipale werkers herstel 'n pypbars buite Paternoster.
Munisipale werkers herstel ‘n pypbars buite Paternoster.

Asbes-sementpype (AS-pype) is op groot skaal tussen 1950 en 1970 in die land se waterverspreidingspyplyne geïnstalleer en word steeds deur baie munisipaliteite in Suid-Afrika gebruik vir die verspreiding van dorpe se drinkwater.

Omdat vele AS-pype nou reeds hulle ontwerp-of diensleeftyd oorskry, lei dit tot gereelde pypbarste.
Studies het bevind dat  verhoogde waterdruk, lengte en die ouderdom van pype, die belangrikste bydraende faktore tot die afskilfering en vrystelling van asbesvesel in drinkwater is, terwyl hoë watervloeitempo’s in die verspreidingstelsel erosie van die AS-pypwande kan  veroorsaak.

Dié risiko’s het reeds verskeie waterdiensowerhede en munisipaliteite landwyd genoop om met AS-pypvervangingsprojekte te begin. Syfers toon dat sowat negentigduisend mense jaarliks wêreldwyd aan asbesverwante siektes sterf. Die gebruik van asbes is reeds in 2008 in Suid-Afrika verbied.

Hoewel die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) steeds geen drinkwatergehalte-kriteria vir asbes voorstel nie, is asbes egter steeds op dié gesaghebbende organisasie se waaklys. Die WGO beveel ook nie die gebruik van asbeshoudende waterpype aan nie.

Onafhanklike studies het egter bevind dat drinkwater wat met asbesvesels besmet is, wél moontlike gesondheidsgevare inhou wanneer dit oor ‘n lang tydperk geskied.

Toneel van onlangse pypbars buite St. Helenabaai. Foto: Danie Hefers
Toneel van onlangse pypbars buite St. Helenabaai. Foto: Danie Hefers

Die St. Helenabaai-sakekamer  het ook sý kommer uitgespreek oor die toename in pypbarste en wateronderbrekings in die dorp.

Volgens Stoan Bartel, die sakekamervoorsitter, is dit ‘n groeiende bron van kommer vir beide inwoners én besighede in die gebied.

“Die primêre probleem is die herhalende ontwrigting van inwoners se daaglikse lewe en ekonomiese aktiwiteite. Besighede word operasioneel geraak, inwoners ervaar voortdurende ongerief, en die kumulatiewe impak op vertroue in plaaslike infrastruktuur kan nie geïgnoreer word nie.”

Volgens Bartel wek die onderbrekings ook breër kommer oor die toestand en veroudering van die waternetwerk se  infrastruktuur en heers daar gesondheidsbekommernisse rakende die samestelling van sommige van die ouer pypmateriale.

“Ons wil erkenning gee aan munisipale spanne wat oor die algemeen vinnig reageer op pypbreuke, en dat herstelwerk dikwels binne ’n redelike tydraamwerk uitgevoer word.

Reaktiewe instandhouding alleen sal egter waarskynlik nie die onderliggende probleem in die langtermyn oplos nie.”

Bartel meen daar blyk ’n groeiende behoefte te wees vir ‘n meer omvattende strategie wat betref die vervanging en vernuwing van infrastruktuur.

Dit is egter nie net St. Helenabaai se inwoners wat gereeld met pypbarste en wateronderbrekings moet worstel nie. Verskeie ander dorpe in die Saldanhabaai- munisipale gebied (SBM)  gaan ook al geruime tyd plek-plek gebuk onder gebrekkige en onvoldoende infrastruktuur wat kreun onder die gebied se snelle vooruitgang en behuisingsgroei.

Woensdag 13 Mei was daar weer pypbarste buite Paternoster en in Vredenburg.

Die beskadigde waterpype wys duidelike tekens van verouderde asbesmateriaal. Foto: Danie Hefers
Die beskadigde waterpype wys duidelike tekens van verouderde asbesmateriaal. Foto: Danie Hefers

Volgens gefrustreerde inwoners soos Gerhard Snyman is die enkele 375-mm-grootmaatpypleiding (bulk supply) wat dorpe soos St. Helenabaai van water moet voorsien, lankal reeds onvoldoende.
“Hoewel dit ‘n fees is om hier te woon, is die knaende wateronderbrekings ‘n groot frustrasie en krisis. Die gebied se infrastruktuur het nie tred gehou met die honderde nuwe huise nie. Ek glo nie die SBM weet hoeveel mense in St. Helenabaai woon nie.”

Die Services To Our People’s Party (STOPP) het onlangs ‘n mediaverklaring uitgereik waarin hy die DA/GOOD-koalisie in die SBM veroordeel oor die gebied se “waterkrisis”.

Volgens Peter Plaatjies, die woordvoerder van STOPP, veroordeel die party die voortdurende wateronderbrekings in verskeie dorpe in die SBM en selfs omliggende plase. “STOPP hou die DA/GOOD-koalisie in die SBM direk verantwoordelik vir hierdie mislukking. Hierdie krisis het nie oornag ontstaan nie. Dit is die gevolg van jare se swak infrastruktuurbeplanning, onvoldoende instandhouding en swak toesig,” sê STOPP.

Volgens Ethne Lawrence, ‘n woordvoerder van die SBM, is daar verskeie oorsake vir die gereelde pypbarste in die Saldanhabaai munisipale-gebied.

“Baie van die bestaande pype is verouderd en is meer geneig tot barste weens materiaalverswakking terwyl verhoogde waterdruk in die pypstelsels spanning plaas op infrastruktuur.
“Die snelle uitbreiding van residensiële ontwikkelings verhoog die spitstydaanvraag en veroorsaak hoër vloeisnelhede en drukvariasies, wat die bestaande infrastruktuur oorlaai.”

Lawrence sê om dié uitdagings aan te spreek, implementeer die munisipaliteit ‘n gestruktureerde pypvervangingsprogram, waar ou infrastruktuur stelselmatig vervang word met meer duursame materiale.

Beskadigde waterinfrastruktuur het weer die kollig op verouderde pyplyne geplaas. Foto: Danie Hefers
Beskadigde waterinfrastruktuur het weer die kollig op verouderde pyplyne geplaas. Foto: Danie Hefers

“‘n Beduidende gedeelte van die bestaande waternetwerk bestaan uit asbessementpype. Daar word beraam dat ongeveer 80% van die huidige waterpypinfrastruktuur uit asbesmateriaal vervaardig is.
SBM voer maandeliks watergehaltetoetse uit, waartydens chemiese en bakteriologiese parameters volgens die vereistes van SANS 241:2015 gemonitor word. Daarbenewens word ‘n volledige SANS 241-analise een keer per jaar uitgevoer. SBM het ook in 2023 Bluedrop-status vir waterbestuur en  kwaliteit behaal.”

Volgens Lawrence is die bestaande 375 mm waterpypleidings tans onder beduidende druk, maar voorsien steeds voldoende water. “Daar word egter beplan om dit te vervang met ‘n nuwe 650 mm HDPE-waterleiding oor ‘n afstand van ongeveer 20 km. Hierdie opgraderingsprojek sal die verhouding tussen wateraanvraag en voorsiening verbeter en sodoende druk- en vloeiuitdagings aanspreek. Die beraamde koste van die projek beloop ongeveer R200 miljoen, en die projek is tans in ontwerpfase.”
Weslander het ook die Weskus Distriks-munisipaliteit (WKDM) vir kommentaar genader.

Heinrich Robertson, die WKDM se woordvoerder, het beaam die hoofoorsaak van die gereelde pypbarste op die betrokke waterlyn na St. Helenabaai, die ouderdom van die infrastruktuur en die pyplyn. “Die spesifieke pyplyn het reeds sy verwagte lewensduur oorskry en word ook vir lang tydperke onder maksimum aanvraag bedryf, wat addisionele druk op die stelsel plaas.”

Groot hoeveelhede water het verlore gegaan ná nog ’n pypbars. Foto: Danie Hefers
Groot hoeveelhede water het verlore gegaan ná nog ’n pypbars. Foto: Danie Hefers

Volgens Robertson is die pypstelsel gedurende die 1970’s geïnstalleer in ‘n era waar sement-asbespype algemeen gebruik was. “Hoewel daar openbare kommer bestaan oor moontlike asbesvesels in drinkwater ná die jongste pypbars buite St. Helenabaai, sien die WKDM goeie resultate met die oorskakeling van chlorinegas, wat gevaarlik is, na chloor dioksied wat tweeledig help met die beskerming van die waterpyplyn sowel as die waterkwaliteit by die eindpunt. Die munisipaliteit verseker egter dat streng voorsorgmaatreëls toegepas word, insluitend die deeglike spoel van pype, voordat water weer aan verbruikers voorsien word.”

Die munisipaliteit het ook bevestig dat die vervanging van die bestaande 375-mm-pyplyn reeds geïdentifiseer en geprioritiseer is. “Finale beplanning vir die projek word tans afgehandel, waarna die vervanging van die pyplyn oor die volgende drie jaar sal plaasvind vanaf die Vergeleë-reservoir tot by die Laingville-reservoir buite St. Helenabaai,” sê Robertson.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 14 May 2026
    Weslander E-Edition – 14 May 2026

Gift this article