Die mooi kusgebied van Lambertsbaai is ‘n groot trots vir die dorp, maar ongelukkig word rommel steeds gereeld op die strand agtergelaat. Dit is juis hierdie uitdaging wat die plaaslike inwoners Elria en Jacques Walters aangespoor het om ‘n daadwerklike verskil te maak om die strand netjies te hou.
Die Walters-gesin het met die hulp van ander besorgde gemeenskapslede ‘n helder geel vullisdrom gekoop en duidelik gemerk met ‘n plakker wat strandgebruik aandui. Die drom is stewig by die strandgebied vasgeketting om te verseker dat dit nie verdwyn nie en beskikbaar bly vir strandgangers om hul rommel reg weg te gooi.
Elria Walters het verduidelik dat sy elke Sondagaand die drom sal verwyder en gereed sal plaas vir die munisipale vullistrok, wat dit op ‘n Maandag kom leegmaak. Só word verseker dat die drom nie oorvol raak nie en dat die strand- gebied vir inwoners en besoekers skoon en netjies bly.
Die Walters-gesin doen ‘n beroep op veral inwoners langs die Lambertsbaai-kuslyn om ook soortgelyke dromme te koop, eienaarskap te neem en saam as gemeenskap verantwoordelikheid te aanvaar vir die netheid van die strand.
Volgens hulle kan klein, praktiese optredes soos hierdie ‘n groot verskil maak, veral wanneer almal saamwerk.
Die gemeenskap word ook herinner dat hierdie dromme uitsluitlik vir strandgebruik bedoel is. Indien ‘n stranddrom op enige ander plek as die strand gewaar word, word dit as gesteel beskou.
Kontak Jacques Walters by 083 610 0700 om betrokke te raak en saam te verseker dat Lambertsbaai se kuslyn ‘n skoon en trotse ruimte bly.





