Die Wes-Kaapse departement van mobiliteit het 27 ongelukke en 34 sterftes op die provinsie se paaie gedurende die tydperk 22 tot 28 Desember 2025 aangeteken.
Tragies genoeg was 14 van hierdie sterftes voetgangers, wat die voortgesette kwesbaarheid van mense wat gedurende die feestyd op paaie loop, beklemtoon.
Provinsiale verkeersdienste het gedurende dié week altesaam 103 inhegtenisnemings uitgevoer, waarvan 73 vir bestuur onder die invloed van alkohol was, terwyl 15 inhegtenisnemings vir die besit van bedrieglike dokumente was.
‘n Verdere 301 spoedoortredings is aangeteken, met die hoogste spoed 167 km/h wat in ‘n 120 km/h sone gemeet is.
Om riskante gedrag te bekamp, is altesaam 199 geïntegreerde padblokkades, voertuigbedheerpunte en spoedbeheeroptredes reg oor die Wes-Kaap uitgevoer.
Tydens hierdie optredes is meer as 32 000 voertuie voorgekeer en nagegaan en meer as 7 900 boetes is uitgereik vir verskeie verkeersoortredings, wat wissel van bestuurdersgeskiktheid tot voertuigonpadwaardigheid.
Bestuur onder die invloed en voetgangersterftes het groot bekommernisse oor die afgelope feestyd gebly.
Daarbenewens het sewe fietsryers en nege motorfietsryers die afgelope feestyd tragies hul lewe op Wes-Kaapse paaie verloor, wat die uiterste kwesbaarheid van tweewielpadgebruikers beklemtoon.
Die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Isaac Sileku, het gesê “die verlies van 34 lewens in net een week is ‘n harde herinnering dat onveilige gedrag op ons paaie verwoestende gevolge het”.
“Heeltemal te veel van hierdie voorvalle – veral dié wat alkohol en kwesbare padgebruikers betref, is heeltemal voorkombaar. Namate ons deur die somer voortgaan, doen ek ‘n beroep op elke padgebruiker om verantwoordelike keuses te maak, na mekaar om te sien, geduldig en waaksaam op ons paaie te wees en ons te help verseker dat almal veilig by hul bestemming aankom,” het Sileku gesê.
Maxine Bezuidenhout, die Wes-Kaapse verkeersbestuurshoof het gesê: “Ons verkeersbeamptes bly reg oor die provinsie hoogs sigbaar, met voortdurende padversperrings, spoedhandhawing en voertuigkontroles wat 24 uur per dag plaasvind. Maar handhawing alleen is nie genoeg nie. Padveiligheid kom uiteindelik neer op individuele keuses om te kies om nie te drink en te bestuur nie, stadiger te ry en meer bewus te wees van voetgangers, fietsryers en motorfietsryers, wat steeds die kwesbaarste op ons paaie is.
“Dit is moontlik om geen sterftes op ons paaie te behaal as almal hul deel doen. Met die vakansie op ‘n einde en die somer wat voortduur, herinner die departement alle padgebruikers daaraan dat veiligheid van individuele keuses en verantwoordelike gedrag afhang.”
Wenke vir padgebruikers:
Dronkbestuur
• As jy beplan om te drink, reël ‘n aangewese bestuurder, gebruik openbare vervoer of bespreek ‘n saamrydiens.
• Onthou dat selfs klein hoeveelhede alkohol oordeel en reaksietyd benadeel, en om “net ‘n kort entjie” te ry, is nie die risiko werd nie.
VEILIGHEID VAN VOETGANGERS
• Moenie op paaie loop wanneer jy onder die invloed van alkohol is nie. Alkohol beïnvloed jou balans, bewustheid en besluitneming, wat die risiko verhoog om deur ‘n voertuig getref te word.
• Dra helder of weerkaatsende klere in die nag en steek paaie slegs waar moontlik by aangewese voetgangeroorgange oor.
Fietsryers
• Dra altyd ‘n valhelm en maak seker dat jou fiets duidelik sigbaar is, met werkende ligte en weerkaatsers, veral toestande waar min lig is.
• Ry defensief, gehoorsaam verkeersreëls en voorspel en verwag die optrede van ander padgebruikers te alle tye.
Motorfietsryers
• Dra beskermende rytoerusting, insluitend ‘n gesertifiseerde valhelm, handskoene en beskermende klere elke keer as jy ry.
• Handhaaf ‘n veilige volgafstand en moenie te vinnig ry nie veral nie op onbekende roetes nie.
Die departement herhaal sy verbintenis tot hoësigbaarheids- handhawing reg oor die provinsie hierdie somer. Handhawing alleen kan egter nie lewens red nie; elke padgebruiker het ‘n rol om te speel om te verseker dat reise veilig eindig en dat gesinne nie in rou gelaat word nie.





