Die skrywer dr. Hendrik Snyders.

Met sy jongste boek, Rough Diamonds – A History of South African Baseball, neem Saldanhabaaier Hendrik Snyders lesers deur die geskiedenis van bofbal in Suid-Afrika as een van die afgeskeepte sportkodes wat ons selde op kommersiële sportkanale in Suid-Afrika sien.

Die skryfproses tot by die eindproduk het dié trotste Weskusser amper 13 jaar geneem.

Snyders het van sy kinderjare af ‘n groot liefde vir boeke.

“Ek is van kindsbeen af ‘n bibliofiel en leser en kon glad nie boeke, koe- rante of enige drukwerk uitlos nie. Die vullishope was van vroeg af al my biblioteek. Oral waar ek my vandag bevind, is daar boeke. Ek het ook vroeg die gewoonte aangeleer om notas te maak van enigiets wat ek interessant vind.” Daar is gevolglik altyd ‘n stapel notas wat “wag om ‘n storie te word”.

Snyders sê Rough Diamonds, wat verlede maand vrygestel is, vertel die verhaal van ‘n sport wat al langer as 100 jaar op georganiseerde basis in Suid-Afrika gespeel word. Verder plaas die boek die geskiedenis van al Suid- Afrika se bofbalgemeenskappe in die kollig. Beide spel en gemeenskap word in een omvattende sportgeskiedenis saamgevat.

“My grootste motivering vir hierdie projek is eerstens om die sport van sy eie omvattende geskiedenis te voorsien. Tweedens is die doelwit om die bestaan van drie onderskeibare sporttradisies met Suid-Afrika en die internasionale gemeenskap te deel.”

Daarby wil Snyders die geskiedenis van swart sportgemeenskappe uit die voetnotas lig deur ‘n volledige Suid-Afrikaanse eerder as ‘n etniese geskiedenis aan te bied.

Volgens hom was die grootste uitdaging gewis die tekort aan amptelike argiewe van die drie voormalige bofbal-administrasies.

“Gevolglik moes ek op eie koste na onder meer Kaapstad, Bloemfontein, Pretoria, Kimberley en ander sentra reis om die nodige inligting te verkry.

“Voorts het die uitgewer op foto’s ter illustrasie van die teks aangedring – ‘n vereiste wat nog verdere onkostes tot gevolg gehad het en die afhandeling van die boek met twee jaar vertraag het.”

Wanneer lesers die boek lees, wil Snyders hê hulle moet nooit die opoffering van duisende mense “wat ons vryheid op alle gebiede met hul bloed en sweet gekoop het”, vergeet nie. “Voorts dat ons hierdie sport as deel van ons kollektiewe erfenis . . . sal aanvaar . . . sal koester en soos goud sal oppas.”

Snyders sê die Weskus-gemeenskap sal ‘n daadwerklike poging moet aanwend om ‘n boek- en leeskultuur te bevorder. “Daar is nie genoeg ordentlike boekwinkels hier rond nie. Verder word ons eie geskiedenis nie nagevors of bevorder nie. Ons gemeenskappe loop die gevaar om ‘n swak-ingeligte en ‘n blind-dowe nageslag te skep.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article