Die bouwerk by Panorama Primêr, ‘n projek waarna baie in die gemeenskap uitsien, sloer steeds.
Jandré Bakker, ‘n woordvoerder vir die departement van infrastruktuur, het in Julie 2024 aan Weslander gesê verskeie onvoorsiende uitdagings vertraag die projek en die beoogde perseel se oorhandigingsdatum sou April 2025 wees, met ‘n beraamde voltooiing vir Mei 2026 (Weslander, “Hoop ná bou van skool vertraag”, Donderdag 18 Julie 2024).
Stephen Heyns, ook ‘n woordvoerder vir die department van infrastruktuur, het op ‘n onlangse navraag geantwoord dat Panorama Primêr se konstruksieprojek in Vredenburg steeds verskeie uitdagings in die gesig gestaar.
“Vorige kontrakteurs kon nie hul kontraktuele verpligtinge nakom nie, wat die voltooiing van die skool vertraag het. Die proses om die onvoltooide werk te
dokumenteer, ‘n tender uit te dien en dan ‘n nuwe kontrakteur met die vereiste gradering en kundigheid aan te stel, is nou voltooi. Die aangestelde professionele span berei voor om die terrein aan die einde van Oktober 2025 aan die nuwe kontrakteur oor te dra, met voltooiing van die konstruksie wat in Mei 2027 verwag word.”
Hylton Langley, die skoolhoof van Pa- norama Primêr, sê hulle sien sedert 2019 na die nuwe skool uit. “Die personeel en skoolbeheerliggaam het destyds groot planne gehad, maar ongelukkig moes dit telkens uitgestel word. Selfs ons leerders het met opgewondenheid daarna uitgesien. Vir baie opvoeders en leerders het die droom om by die nuwe skool in te trek, nooit waar geword nie, aangesien kosbare tyd verlore gegaan het.
Soos ek al voorheen gesê het, is hierdie skool die baken van hoop vir ons gemeenskap. Die nuwe Panorama-skool sal hierdie hoop en trots in die hart van elke Pannies-kind lewend hou.”
Heyns voeg by dat die departement van infrastruktuur sy verbintenis tot die voltooiing van die skool en die verskaffing van broodnodige opvoedkundige geriewe aan die leerders van die gemeenskap wat hierdie skool sal bedien, bevestig het.





