'n Petisie wat borgtog van 'n Piketberg man teenstaan, word sterk aangemoedig.
‘n Petisie wat borgtog van ‘n Piketberg man teenstaan, word sterk aangemoedig.

‘n Man in sy 50’s word aangekla van die seksuele aanranding van ‘n 13-jarige meisie in Piketberg.

‘n Petisie is deur Billy Claasen, ‘n gemeenskapsleier, uitgereik en hy vra die publiek om dit te teken om borgtog aan die beweerde oortreder teen te staan. Die petisie versoek die staat en polisie om borgtog vir die 50-jarige teen te staan.

“Mense beweer hy het sy 13-jarige stiefdogter seksueel aanrand sedert sy net 11 jaar oud was. Die kind was in sy sorg omdat hy met haar ma getroud is en hy het haar na bewering uitgebuit wanneer die ma by die werk was. Dit toon duidelike misbruik van vertroue en gesag.”

AO Silke Lourens, ‘n woordvoerder vir die Piketberg-polisiedistrik, het bevestig dat ‘n man vir beweerde seksuele aanranding en verkragting in hegtenis geneem is.

Die petisie lui verder dat die staatsaan- klaer, die hof en die polisie die erns van die saak moet erken. “Seksuele misbruik van ‘n minderjarige is een van die skadelikste misdade, met langtermyn- emosionele, sielkundige en sosiale gevolge.

“Slagoffers ly dikwels aan trauma, vrees, depressie, angs en probleme as hulle sonder ondersteuning moet praat.

“Om hierdie rede doen ons ‘n beroep op die polisie om te verseker dat die kind onmiddellike toegang tot ‘n sielkundige of opgeleide kinderberader kry sodat sy haar storie veilig kan vertel.

“Indien hierdie man op borgtog vrygelaat word, sal dit verdere trauma vir die kind veroorsaak en haar in gevaar stel weens intimidasie of druk om stil te bly.

“Sy vrylating kan die ondersoek belemmer en tot die vernietiging van bewyse lei. Ons doen dus ‘n beroep op die staatsaanklaer en polisie om borgtog teen te staan, die kinderslagoffer te beskerm asook om die ondersoek uit te brei, aangesien daar ander gevalle van misbruik of verwante bekommernisse kan wees.

“Die veiligheid en welstand van hierdie kind moet eerste kom. Ons vertrou dat die staatsaanklaer en polisie sal verseker dat reg geskied,” lui die petisie.

• Die man het verlede Vrydag (12 September) in die Piketberg-landdroshof verskyn en die saak is tot môre (Vrydag 19 September) uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article