‘n Kassie met sentimentele waarde – dit is al wat Yusuf Maarman (35) oor het van die hophuis wat hy en sy broer, Abubakar Maarman (45), by hul ma geërf het.

Die eens netjiese oranje huis in Topstraat, Hopland 1, het die afgelope Sondag (31 Augustus) saam met twee aangeboude skuilings afgebrand.
Die dak is nog daar en daarom het hulle maar die aand ná die brand in dit wat van die struktuur oor was, geslaap – ten spyte van die skerp reuk van rook, brand en verwoesting.
Maarman het die dag ná die brand verwese in die woonhuis gestaan en gewys na die kassie wat aan ‘n ou geliefde behoort het. Verder het hulle alles verloor.
Volgens hul buurvrou, Leance Nel, het sy en verskeie ander mense nét na 10:00 tevergeefs probeer om die brandweer in die hande te kry, maar die nommers wou nie deurskakel nie.
Sy gee wel toe nadat hulle uiteindelik die brandweer in die hande gekry het, hulle binne 10 minute by die brandende huis opgedaag het. Die Saldanhabaai-munisipaliteit (SBM) se brand-en-reddingsdiens het volgens Tereza Burger, ‘n woordvoerder vir die SBM, die afgelope naweek op drie struktuurbrande in Saldanha en een op Vredenburg gereageer.
Volgens Burger het die brandweer dié Sondag ‘n oproep om 10:15 ontvang oor ‘n huis wat in Topstraat, Hopland, brand. Hulle het omstreeks 10:25 by die huis aangekom en die brand begin takel. Die brand was teen 13:00 geblus.

Nét hierna is die brandweer weer na dieselfde buurt uitgeroep oor nóg ‘n huis ‘n blok verder wat ook aan die brand was. Die brandweer het dié huisbrand omstreeks 11:02 begin blus en teen 11:54 was hul taak afgehandel.
“Die hitte en rook wat deur die brand veroorsaak is, het ernstige skade aan die huis veroorsaak,” het Burger gesê.
Die eienaars van die ander afgebrande huis was by die werk ten tyde van Weslander se besoek.

Kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder vir die Weskus-polisie, het bevestig dat ‘n saak van brandstigting by die Saldanha-polisie aangemeld is en dat die oorsaak van die brand ondersoek word.
Volgens Burger was dit nié ‘n bou-inspekteur van die SBM wat die afgelope Maandag (1 September) die afgebrande huis in Topstraat besoek en aan die eienaars gesê het die huis is onbewoonbaar en sal heel moontlik gesloop moet word nie. “Die munisipaliteit se boubeheer-afdeling is nie bewus van sodanige inspeksie op die eiendom nie.”
Burger het ook beklemtoon dat die sloping van ‘n huis onderhewig is aan ‘n toepaslike hofbevel.
Die afgelope Maandag is die brandweer om 02:17 na ‘n derde brand in Saldanha uitgeroep – dié keer ‘n plakkershut. Die lede het omstreeks 02:30 begin om die brand, wat tot omstreeks 02:52 geduur het, te blus.
Oor die klagte dat mense gesukkel het om die brandweer in die hande te kry, sê Burger hulle is nie bewus van enige telekommunikasiefoute met oproepe na die openbare veiligheidsbeheerkamer of die brand- en reddingsdienste nie.
• Skakel die brand-en-reddingsdienste by 022 713 1815 of 086 007 3473, of die openbare veiligheidsbeheerkamer by 022 701 6834 om ‘n brand aan te meld. Al die nommers is dag en nag beskikbaar.




