Daar is ‘n skerp styging in huisrooftogte in die Weskus-polisiedistrik met deure wat oopgedwing word omdat die infrastruktuur nie altyd geskik is om veiligheidsdeure aan te bring nie.

Saterdagoggend (16 Augustus) om 00:07 was ‘n 24-jarige man en sy meisie in Tolbadistraat in Witteklip, Vredenburg, aan die slaap toe hulle ‘n geklop aan die deur hoor. ‘n Onbekende man het ‘n mes teen die man se nek gedruk en hom beveel om stil te bly. Die rower het met ‘n selfoon gevlug.

Die volgende dag, Sondag 17 Augustus, is ‘n 43-jarige vrou omstreeks 06:20 deur drie mans in haar huis is Ntepang Street in Ongegund, Vredenburg, oorval. Die klaer het wakker geword van geluide en drie mans in haar woonkamer gesien toe sy gaan ondersoek instel. Die mans se gesigte was bedek. Die rowers het haar met ‘n vuurwapen gedreig en beveel om terug te gaan na haar kamer. Hulle is met haar TV-stel, selfoon en handsak vort.

Romano Windvogel (38) en Barryl Wagenaar (22) van Malmesbury het Maandag in die landdroshof in die dorp verskyn nadat hulle tussen Donderdagaand en Vrydagoggend (15 Augustus) ‘n 63-jarige vrou van Chatsworth in haar huis met ‘n vuurwapen gedreig het. Die slagoffer het wakker geword van geluide in die huis en toe sy ondersoek gaan instel, het hulle haar met die wapen gedreig. Die rowers het met haar selfoon gevlug.

Gotries Elisto (36) en Albert Masango (45) is aangekeer nadat hulle en twee van hul makkers Saterdagoggend (16 Augustus) om 03:15 aan ‘n 31-jarige klaer se deur in Klawer geklop en in sy huis ingegaan het. Die klaer is vasgebind en aangerand en met messe gedreig. Die rowers het met R30 000 kontant, vier selfone en twee horlosies gevlug.

Dié twee rowers het Maandag (18 Augustus) in die hof verskyn.

Die 37-jarige Zabathini Dangla is Sondagoggend omstreeks 05:25 met meswonde in Eyethu Street, Ilingelethu, gekry. Hy is op die toneel oorlede. Die Malmesbury-polisie ondersoek ‘n saak van moord.

’n Sestienjarige seun is Saterdag (16 Augustus) om 16:30 in Porterville erg by die dorp se sportterrein aangerand. Hy is onder meer geskop en met ‘n baksteen aangerand. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.

Twee mans het Sondag (17 Augustus)| om 15:00 in Langstraat, Porterville, saam gesit en drink. Die aanvaller het met ‘n 27-jarige man oor bier baklei en hom herhaaldelik met ‘n mes gesteek. Hy kon nie sy mes uit die slagoffer trek nie, want dit het vasgehaak. Die aanvaller het skraapwonde opgedoen en albei het mediese behandeling ontvang voordat die aanvaller in hegtenis geneem is.

• Weslander verskaf weekliks ‘n kort blik op die vorige week se misdaadgebeure in sy verspreidingsgebied met behulp van kapt. Tania Helfrich, woordvoerder van die Weskus-distrikspolisie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 March 2026
    Weslander E-Edition – 5 March 2026

Gift this article