Om eenheid teen kindermishandeling, dwelmmisbruik en misdaad te wys, het Annel Jordaan en Tashville Kearns van Paternoster die gemeenskap verlede Vrydag (18 Julie) vir ‘n vreedsame bewusmakingsveldtog bymekaargebring.
Volgens Jordaan spruit dié optrede uit ‘n vlaag misdaad wat Paternoster geruk het.
Jordaan sê die optog was om teenstand teenoor misdadige aktiwiteite in die dorp te wys. Tussen 80 en 100 mense het aan die optog deelgeneem.
Joey Pieters, die gemeenskapsveiligheidskoördineerder vir die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê hoewel dit dikwels ongemerk verbygaan, verdien die toewyding van gemeenskappe soos Paternoster erkenning.
“As wetstoepassingsagentskappe prys en ondersteun ons die onlangse inisiatief van die Paternoster-gemeenskap – om ‘n verenigde standpunt teen misdaad met ‘n georganiseerde staptog in te neem – heelhartig. Dit is opmerklik dat die stasiebevelvoerder van die plaaslike polisiekantoor saam met die mense van die gemeenskap gestap het – ‘n kragtige simbool van solidariteit en vennootskap.”
Pieters beklemtoon dat die proaktiewe staptog deur inwoners ‘n sterk boodskap stuur. “Die gemeenskap is nie net bekommerd oor misdaad nie, maar is bereid om saam met wetstoepassings- agentskappe te werk om ‘n veiliger omgewing vir almal te skep.”





