Suur-aanval: Alvin “Lippe” Smith tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis

Inwoners was woedend oor die voorval en het gereeld voor die hof betoog dat die verdagte nie borgtog moet kry. FOTO: Murphy Roberts
Inwoners was woedend oor die voorval en het gereeld voor die hof betoog dat die verdagte nie borgtog moet kry. FOTO: Murphy Roberts

Suur-aanval: Alvin “Lippe” Smith tot 12 jaar direkte tronkstraf gevonnis

Inwoners was woedend oor die voorval en het gereeld voor die hof betoog dat die verdagte nie borgtog moet kry. FOTO: Murphy Roberts
Inwoners was woedend oor die voorval en het gereeld voor die hof betoog dat die verdagte nie borgtog moet kry. FOTO: Murphy Roberts

ATLANTIS – Slagoffer Shaneka Johnson wag op ’n lang pad van herstel ná verskriklike suur-aanval.

Alvin “Lippe” Smith (38), wat daarvan beskuldig is dat hy ’n vrou met suur aangeval het, is Woensdag 25 November in die Atlantis-landdroshof tot 12 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op ’n aanklag van poging tot moord.

Die saak het vroeër die jaar groot aandag getrek toe Smith Woensdag 1 April in die hof verskyn het vir borgtog.

Shaneka Johnson was vrolik en opgewek voor die voorval.
Shaneka Johnson was vrolik en opgewek voor die voorval.

Tydens sy borgtogaansoek het Smith aan die hof voorgehou dat hy borgtog verdien omdat hy na bewering ’n saggeaarde en vredeliewende mens is. Hy het ook getuig dat hy nog nooit voorheen met die gereg gebots het nie.

Die aanklaer, mev. Jacobs, het egter hierdie bewering betwis en die hof daarop gewys dat Smith reeds in 2010 skuldig bevind is aan poging tot roof. Die aanklaer het ook die erns van die saak beklemtoon en die aanvanklike aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer na poging tot moord verander.

Smith het tydens sy getuienis aangevoer dat hy nie geweet het dat die bottel suur bevat het nie en beweer dat hy gedink het dit was water. Volgens hom het baie mense met waterbotteltjies rondgeloop.
Die aanklaer het egter aangevoer dat Smith presies geweet het wat in die bottel was en dat hy die bottel suur reeds in sy besit gehad het.

Hy het die slagoffer ook glo vooraf gedreig.

Shaneka Johnson met die skade.
Shaneka Johnson met die skade wat die suur aangerig het.

Die ondersoekbeampte, sers. Dean Adams, het Dinsdag 7 April getuig dat Smith se lewe moontlik in gevaar kan wees indien hy vrygelaat word aangesien lede van die gemeenskap woedend oor die voorval is.

Adams het ook die slagoffer se ernstige beserings in detail aan die hof beskryf. Volgens hom is daar ’n getuie wat na verwagting sal kom getuig oor presies wat tydens die voorval gebeur het.
“Dit gaan ’n lang pad na herstel wees, maar ek is positief,” het Shaneka gesê.

Haar lewe het tydens die voorval in ’n nagmerrie verander toe suur oor haar kop uitgegooi is.
Volgens Shaneka het Smith haar daarvan beskuldig dat sy sy selfoon gesteel het.

“Ek het verduidelik dat ek nie sy selfoon geneem het nie, maar hy wou niks hoor nie. Ek het selfs my eie selfoon aan hom gewys, maar hy het daarop aangedring dat ek syne geneem het,” het sy destyds vanuit haar hospitaalbed vertel.

“Die volgende oomblik het my kop begin brand en ek het die mees ondraaglike pyn ervaar.”
Die aanval het ernstige beserings tot gevolg gehad.

Volgens Shaneka is een helfte van haar oor reeds afgesny en wag daar nog ’n reeks veloorplantingsoperasies om soveel moontlik van die beskadigde weefsel te herstel.

Vir Shaneka lê daar steeds ’n moeilike herstelpad voor, terwyl haar familie en geliefdes hoop op ’n beter toekoms.

Die 12-jaar-direkte gevangenisstraf beteken dat Smith nou aanspreeklik gehou word vir sy aandeel in die voorval wat Shaneka se lewe onherroeplik verander het.

LEES OOK: ‘Ek is bang vir die tronk, U Edele’.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 24 November 2026
    WeskusNuus E-Edition – 24 November 2026

Gift this article