Die burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis, sê gevangenes het nie die reg op onbelemmerde kommunikasie buite die tronkmure nie – veral wanneer hulle misdaad van agter die tralies koördineer.
Die burgemeester het gereageer op die Suid-Afrikaanse Gevangene-organisasie vir Menseregte se teenkanting teen die Stad se beroep om seinblokkering en kommunikasie-onderskeppingstrategieë by die Pollsmoor-gevangenis toe te pas.
“Gevangenes het eenvoudig nie die reg om vrylik buite die tronkmure te kommunikeer nie,” sê Hill-Lewis. “Ons het werklike voorbeelde van die polisie en aanklaers wat goeie werk doen om gangsters weg te kry – net sodat hulle voortgaan om hul misdaadbendes van binne die tronk af te bestuur. Dit maak ‘n bespotting van die strafregstelsel. Om voor te stel dat hierdie gevangenes ‘n verskanste reg het om te doen wat hulle wil terwyl hulle agter tralies is, is eenvoudig belaglik.
“Gevangenes behoort deur die tronk se vastelyntelefone met familie en regsverteenwoordigers te kan kommunikeer. Selfs dan word hierdie oproepe dikwels gemonitor om te verseker dat geen misdaad gepleeg word nie.
“Ons weet vir seker dat onderwêreldse figure binne Pollsmoor aan die buitekant toutjies trek, insluitend afpersingsdreigemente en ontwrigting van die stad se infrastruktuurprojekte. Daarom is ‘n gesamentlike poging nodig om te keer dat hierdie kommunikasie verdere skade aan gemeenskappe veroorsaak.
“Dit sluit in klopjagte om onwettige selfone te verwyder, tegnologie om onwettige selfoongebruik op te spoor en kommunikasie te onderskep, en ja – waar noodsaaklik – seinblokkering as dit is wat nodig is om inwoners aan die buitekant teen misdadige bedreigings te beskerm. Gevangenes moet besef as hulle probeer om misdaad te koördineer, hulle maklik danksy die korrekte tegnologie wat ingestel is en gebruik word, gevang en vervolg sal word,” het Hill-Lewis gesê.
Die burgemeester het hierdie maand aan die minister van korrektiewe dienste, Pieter Groenewald, geskryf om die gebruik van sein-blokkering en ander maatreëls by Pollsmoor te versoek.
Die Stad het verskeie verslae ontvang dat misdaad- en afpersingsaktiwiteite telefonies vanuit die gevangenis gekoördineer word.
Tydens ‘n onlangse padprojekinspeksie in Bishop Lavis is die burgemeester ook in kennis gestel dat die kontrakteur die terrein verlaat het weens afpersingsdreigemente wat per telefoonoproep van ‘n gevangene in Pollsmoor gemaak is.
Hill-Lewis het die Stad se ondersteuning op verskeie maniere aangebied, insluitend:
• Intelligensiedeling om patrone van misdadige aktiwiteite wat uit Pollsmoor voortspruit, te identifiseer.
• Tegniese en logistieke ondersteuning om seinblokkeringstegnologie te laat
installeer.
• Verhoging van openbare bewustheid om hierdie pogings te ondersteun.
“Behalwe vir die hantering van die gebruik van selfone, doen ons verder ‘n beroep op die Departement van Korrektiewe Dienste om leefstyloudits van bewaarders en personeel te oorweeg. Inligting wat aan die Stad verskaf is, illustreer dat korrupsie en afpersing algemeen voorkom, wat misdadigers in staat stel om hul misdade onverpoosd voort te sit. Die werklikheid is dat verbode toestelle soos fone by tronke ingesmokkel word – óf deur personeel self óf deurdat hulle gevangenes nie behoorlik deursoek nie.
“Hierdie soort korrupsie dryf die misdaad-ekonomie in gevangenisse aan en ondermyn geregtigheid. Saam met sterker beheer oor paroolgangers kan die dringende uitrol van leefstyloudits vir bewaarders ‘n beduidende verskil in die opruiming van die stelsel en die herstel van integriteit ,” het die raadsheer JP Smith, ‘n burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, gesê.





