Sandra Dickson van Stop COCT lees die memorandum voor voordat dit aan drie amptenare van die Stad Kaapstad oorhandig word. Foto: Murphy Roberts


Volgens organiseerders van die optog teen verhoging van kragpryse, gee die burgemeester van Kaapstad nie om vir arm mense van die metro nie.

Die veldtog “Onwettige kragpryse moet val” het Saterdag (26 Augustus) momentum gekry toe inwoners van oor die metro voor die burgersentrum byeengekom het om ’n memorandum oor hul ongelukkigheid aan amptenare te oorhandig.

Volgens Sandra Dickson, een van die organiseerders, het die Stad sewe werksdae om op dié eise te reageer. Ongelukkigheid spruit uit die Stad se verhoging van 17,6% in elektrisiteitstariewe, terwyl die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) 15,1% goedgekeur het. Verskillende organisasies en politieke partye het tydens die oorhandiging gesê hulle gaan nie ophou tot die Stad sake “regstel” nie.

Tydens die oorhandiging het die groepe geëis die burgemeester, Geordin Hill-Lewis, moet self die memorandum kom ontvang. Die organiseerders het egter verduidelik dit sou net die hele proses vertraag indien dit nie oorhandig word nie. Die groep eis dat die prys onmiddellik soos deur Nersa bepaal is, aangepas moet word. Die groep eis ook dat eiendomswaardasie as maatstaf vir krageenheidpryse geskrap moet word.

Die groep sê ook die Stad se invorderingsbeleid moet dadelik hersien word omdat agterstallige dienstegeld direk by kragaankope afgetrek word.

Politieke opposisiepartye, wat hul gewig agter organiseerders gegooi het, het die DA-beheerde Stad beskuldig dat hulle nie omgee vir die armes nie.

Volgens Natasha Gertse van die veldtog “Electricity prices must fall” sal hulle weer ’n optog reël indien die Stad nie aan hul vereistes voldoen nie.

“Ons glo dit wat die Stad doen, is onwettig en ons sal aanhou baklei vir mense wat nie die kragpryse kan bekostig nie,” sê sy.

Die groep eis die Stad moet die ekstra geld wat dit van armes vat, summier terugbetaal.

Volgens Hill-Lewis staar die Stad ’n verlies van R500 m in die gesig indien hy nie volhard met die tariefverhoging nie weens instandhoudingswerk en ander uitgawes.

Charles Hlebela, ’n woordvoerder van Nersa, verduidelik die organisasie het talle klagtes ontvang oor die tariefverhoging van die Stad Kaapstad. Hy sê die dispuutoplossingsspan is tans besig om die kwessies te bespreek.

Die ondersoek- en oplossingsproses sal etlike maande neem om ’n “deeglike ondersoek te verseker”.

Volgens Hlebela het Nersa verskeie klagtes ontvang wat vra dat die Stad se onlangse verhoging van 17,6% afgekeur word gesien dit die goedgekeurde tariefverhoging van 15,1% vir alle munisipaliteite oorskry.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026
    WeskusNuus E-Edition – 28 April 2026

Gift this article