Die dapper optrede van een van die twee meisies het die ander een van verkragting gered toe sy, terwyl die maniak besig was om sy broek af te trek, die kans gebruik het om weg te hardloop en hulp te gaan soek.

Kapt. Lisa Munro, ‘n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ‘n 53 jarige man op Vrydag 19 September ná ‘n volskaalse soektog net na vyfuur die middag naby sy huis op klagtes oor ontvoering en poging tot verkragting aangekeer is.
Volgens ‘n betroubare bron het die verdagte, wat onlangs ná nege jaar weens verkragting uit die tronk gekom het, die twee maatjies – onderskeidelik 10 en 11 jaar oud – verlede Vrydagoggend by die ou sentrum genader het.
Volgens die bron het hy die een gestuur om “chips” te gaan koop en hulle gevra om saam met hom te gaan om sy “hasies te gaan kos gee”. Die twee onskuldige meisies het ingestem om te gaan help om die hasies te gaan kos gee, vertel die bron.
Die verdagte het egter met die twee na die duine geloop, waar die hasies kwansuis sou wees, en die meisietjies het onwetend in die verkragter se strik beland. Volgens die bron is gou alarm gemaak oor die twee vermiste meisies en beeldmateriaal is opgevolg, wat die polisie na die duine gelei het.
Die polisie se lugvleuel was binne ‘n uur op die toneel en verskeie hommeltuie is ook ontplooi. Volgens die bron is die meisie wat weggekom het, deur ‘n motoris na die polisiekantoor geneem terwyl die verdagte koue voete gekry en in die duine verdwyn het.
Die soektog het egter voortgeduur en die gebied is gefynkam, maar sonder enige sukses, vertel die bron. Hy was soos ‘n skim en iemand wat die gebied presies ken, want niemand kon hom opspoor nie.
Die verdagte het laatmiddag doodluiters huis toe gestap, maar inwoners het die polisie gekontak wat hom kom vastrek het.
Die verdagte het Maandag 29 September in die hof verskyn.
Teen druktyd was dit onbekend of hy borgtog gekry het.






You must be logged in to post a comment.