Die jaarlikse Dans-Eisteddfod-skole-kultuurvereniging is verlede Saterdag (19 September) ná ‘n afwesigheid van sewe jaar in die Saxosea Primêre Skoolsaal aangebied.
Vir die plaaslike primêre en sekondêre skole was dit ‘n oomblik om hul kreatiwiteit en ritme op die verhoog aan die Atlantis-gemeenskap ten toon te stel.
Die leerders het die verhoog in ‘n kleurvolle landskap omgeskep toe gr. 1- tot gr. 7- deelnemers in hul kleurvolle uitrustings hul danspassies uitgevoer het, wat die gehoor bekoor het.
Die byeenkoms is deur die Dans-Eisteddfod-voorsitter, Zelda Andrews, ook die hoof van Hermeslaan Primêr, geopen toe sy die leerders, gaste en beoordelaars verwelkom het.
Die skole wat deelgeneem het, was die Mamre, Berzelia, Avondale, Reygersdal, Saxonsea, Parkview, Hermeslaan, Pella, Vaatjie en Wesfleur primêre skole,
Die byeenkomste, wat weens die Covid- grendeltyd afgestel is, is eers in 2025 op die Dans-Eisteddfod-skolekultuurvereniging se program geplaas toe die skole eenparig ooreengekom het om die tradisie te hervat, het Andrews aan Weskus Nuus vertel.
“Ons is baie opgewonde om die byeenkoms ná ‘n afwesigheid van sewe jaar weer aan te bied. Dit bring nie net die skole bymekaar nie, maar ook die hele Atlantis, Mamre, Pella, Witsand en omliggende gemeenskappe,” het Andrews gesê.
Die beoordelaars – Doreen Solomons, Amy Adams, Soraya Kippie-Lyners, Leona van Söhnen en Alrine Rodgers – wat meer as 40 jaar se Dans-Eisteddfod-ervaring het, het die optredes geëvalueer.
Die 10 ure lange byeenkoms het net ná 18:00 geeindig toe die finale dansoptredes met die Jenka-opvoering deur die gr.-4- en gr.-5-leerders van die verskillende skole ten einde geloop het.
As ‘n mens na die byeenkoms se opkoms kyk, was dit gewis suksesvol, want ouers en ondersteuners het aan beide kante van die saal gestaan nadat al die sitplekke opgeneem was en selfs buite die saal het ondersteuners saamgetrek om die dans-optredes te aanskou.
“Dit was ‘n baie suksesvolle byeenkoms wat die gaste – en veral die ouers – geïnspireer het en wat weer eens ons kulturele agtergrond uitgebeeld het, wat ons baie trots maak,” het Andrews afgesluit.
LEES OOK: https://novanews.co.za/weskusnuus/atlantis-vier-wow-fees/





