STELLENBOSCH – Die nasionale WOW-Spelfees was weer eens die hoogtepunt vir primêre en sekondêre leerders reg oor die land se provinsies. Dit was net KwaZulu-Natal wat vanjaar by die jaarlikse byeenkoms by die Universiteit Stellenbosch afwesig was.
Meer as 500 leerders en 140 opvoeders van Limpopo, Mpumalanga, Gauteng, die Noord-Kaap, Noordwes, die Oos-Kaap, die Vrystaat en die Wes-Kaap het die 17de WOW-Spelfees van 2026 van die eerste spelwoord tot die finale wenwoord opwindend gemaak.
Dit was mededingend, maar ook feestelik, het van die spellers gesê toe WeskusNuus hulle oor die byeenkoms uitgevra het.
Fiona van Kerwel het in haar openingstoespraak aan die spellers en ouers gesê die feit dat hulle daar is, maak hulle reeds wenners.
Om op nasionale vlak mee te ding, is ‘n eer en ‘n prestasie. Prof. Nico Koopman, die waarnemende hoof vir mensesake aan die US, glo die WOW-Spelfees verbreed leerders se kennis en brei hul woordeskat uit. In sy toespraak aan die gr. 1- tot gr. 4-leerders het hy weer eens beklemtoon: “As jy nie kan lees nie, kan jy nie spel nie; as jy nie kan spel nie, kan jy nie redeneer nie; en as jy nie kan redeneer nie, kan jy nie kommunikeer nie.”
Daarom is onderrig baie belangrik vir kinders in hul primêre en sekondêre skoolfases.
WOW is die grootste spelfees in Suid-Afrika en word in drie van die land se 11 amptelike tale aangebied: Afrikaans (gr. 1 tot gr. 10), Engels (gr. 4 tot gr. 9) en isiXhosa (gr. 5 tot gr. 8).
Die fees het weer eens gewys hoe belangrik onderwys is en dit mense help om doeltreffend te kommunikeer. Wyle oudpresident Nelson Mandela het gesê: “Opvoeding is die kragtigste wapen wat jy kan gebruik om die wêreld te verander. ‘n Goeie kop en ‘n goeie hart is altyd ‘n formidabele kombinasie. Maar wanneer jy ‘n geleerde kop of pen daarby voeg, het jy iets baie spesiaals.”
Die leerders van die agt provinsies het aan drie strawwe rondes deelgeneem om tot die nasionale eindronde deur te dring, naamlik die kring-, distrik- en provinsiale rondes. Altesaam 322 spelfeeste oor hierdie drie rondes aangebied.

Altesaam 2 208 leerders het vir die spelfees in dié drie tale ingeskryf. Dit is ‘n bemagtigingsinisiatief wat weer eens gewys het dat die fees jaarliks groei.
Vanjaar is ‘n nuwe inisiatief van die Universiteit Stellenbosch bygevoeg – die WOW-Telfees, wat leerders help om hul syfervaardighede verder te ontwikkel en die fees nog feesteliker maak. Hierdie byvoeging word tans net op provinsiale vlak aangebied, maar sal binnekort by die nasionale spelfees ingeskakel word.
Die Sanlam-WOW-Spelfees het 17 jaar gelede begin om leerders se taalvaardighede en taaltrots te ontwikkel.

“Om ‘n woord hardop voor ‘n beoordelaarspaneel ervare onderwyskenners te spel, kan nogal intimiderend wees. Dié proses bou ook aan ons jong leerders se selfvertroue en baie kom dikwels danksy hul blootstelling aan WOW se opvoedkundige programme aan die Universiteit Stellenbosch studeer,” het Fiona van Kerwel, die WOW-bestuurder, gesê.
“Ons spel en speel spel-speletjies in die Sanlam-WOW-Spelfees. Dit is ‘n fees vir woorde en ons sien saam met al die deelnemers, ouers en opvoeders uit na die feesgees wat Saterdag geheers het,” het Van Kerwel bygevoeg.
Die toppresteerders by die byeenkoms het verskeie pryse ontvang, insluitend boeke, selfone, geldpryse en gelukbringers. Die eersteplekwenners ontvang ook die US se stuitige Pokkel, medaljes en ‘n selfoon, terwyl alle deelnemers en beamptes deur die WOW-organisasie met sertifikate vir hul deelname aan die spelfees vereer is.
Die nasionale eindronde van die Sanlam-WOW-Spelfees was ‘n hoogtepunt op die US-kampus. Die Eikestad het die week gewemel van besoekers wat nie net ou universiteitsvriende kom besoek het nie, maar ook tyd saam met familie deurgebring het.
Le-Chay Adams (gr. 5) van Saxonsea Primêr het ‘n tweede plek (silwer) behaal, terwyl Mu-Ezza Schouw (gr. 7) van Hermeslaan Primêr brons gewen het. Jenicke Pyl (gr. 8) en Lyle Veldsman (gr. 9) – albei van Saxonsea Sekondêr – het onderskeidelik brons- en silwermedaljes in die Afrikaanse en Engelse afdelings verower.
Atlantis-skole se wenners
Le-Chay Adams – Saxonsea Primêr (tweede plek, gr. 5) – Afrikaans
Mu-Ezza Schouw – Hermeslaan Primêr (derde plek, gr. 7) – Afrikaans
Jenicke Pyl – Saxonsea Sekondêr (derde plek, gr. 8) – Afrikaans
Clyde – Saxonsea Sekondêr (gr. 9, tweede plek) – Engels



