“Dit was moeilike tye, maar ek moes die beste daarvan maak.”
Só vertel Maxwell Moss (64), die eerste redakteur van WeskusNuus.
Die koerant vier vanjaar sy 40ste bestaansjaar.
Volgens Moss, wat ’n prokureur wou word, het hy as 20-jarige by die koerant betrokke geraak toe dit nog AtlantisNuus was.
Moss vertel die eienaar het die koerant verkoop en dit het toe die Atlantan geword. “Ek moes Saldanha agterlaat en in Atlantis gaan woon, wat nogal ’n aanpassing vir my was,” vertel hy. Volgens Moss het die eerste eienaar weer die koerant teruggekoop en WeskusNuus in November 1984 gebore.
“Atlantis het destyds baie uitdagings gehad en die eienaar wou nie hê ek moes daaroor skryf nie, wat my baie frustreer het,” vertel hy. “Ek het verskeie gemeenskapsleiers ontmoet en met my verbintenis tot die destydse verbande ANC baie ondergrondse werk met leiers soos Noel Williams en die ontslape Cybil Makenia gedoen – sonder dat my baas weet,” vertel hy stout.
“Ek kon eenvoudig nie toesien hoe Atlantis se mense onder die Apartheidswette verneder word nie,” vertel Moss. “Die tyd by WeskusNuus het baie deure vir my oopgemaak en ek het geweldig baie mense ontmoet, en dit het ook baie deure vir my oopgemaak. Ek moes destyds man alleen alles doen en moes ook die koerant versprei en advertensies verkoop.”
Eise wat later aan hom gestel is, het daartoe gelei dat hy besluit het om die koerant vaarwel te roep, maar die koerantgogga het reeds gebyt en hy wou niks anders doen nie. Hy het toe by die kerkkoerant, Alternatief, betrokke geraak. “Ek het ook verskeie gemeenskapsorganisasies oor die Weskus en ander gebiede gestig om veral jong mense polities op te voed.
Moss, wat in 1993 in ’n ernstige motorongeluk van sy bors af verlam is, het van 1999 tot 2009 in die Parlement gedien. “Ek het later besluit om af te tree en my gemeenskap op verskeie gebiede te dien, en is deesdae baie betrokke by sportadministrasie,” vertel hy.





