Terwyl Vredenburg en St. Helenabaai op Saterdag 5 September om die tweede posisie baklei het, het Saldanhabaai laasgenoemde twee van die pawiljoen af dopgehou.
Die Albatrosse, wat verlede Saterdag met Saldanhabaai in die Saldanha Transnet-stadion afgereken het, het hulle ongelukkig teen Vredenburg vasgeloop en die Albatrosse se vlerke is kortgeknip.
Die Albatrosse, wat vinnig ‘n voorsprong van 17-6 opgebou het, is stadig deur Vredenburg tot oorgawe gedwing ná goeie spel deur voor- en agterspelers en die telling tot 20-17 opgeskuif het. In die tweede helfte het Vredenburg se Burg Boys die uitklophou geplant en die wedstryd met 49-34 belink.
Met dié oorwinning het Vredenburg seker gemaak die Albatrosse se stervere in hul stryd om die tweede posisie is uitgepluk.
SALDANHABAAI-TITEL VERSEKER
Saldanhabaai, wat sy wedstrydverpligtinge op Saterdag 29 Augustus voltooi het, is nou verseker van die titel vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar en kan nou op voorbereiding vir die Top-12-uitspeelwedstryde konsentreer.
Porterville se poging oorkant die N7 het ook op ‘n einde gekom toe Abbotsdale Lillies die tweede posisie syne gemaak het.
In die Swartwes-streekuitdaag het Young Eales, Coronations, Voorberg en Darling Young Tigers tot op die laaste vir die eerste en tweede plekke baklei.
Young Eagles, wat op Saterdag 29 Augustus sy bepalings in die Swartwes-streekbekerkompetisie voltooi en die eerste plek ingeneem het, het angstig gesit en gewag om te kyk wat tussen Coronations en Voorberg op Saterdag 5 September gebeur.
Vroue maak hul merk
‘n Verloor teen Voorberg sou beteken het dat Eagles die streekuitdaagbeker wen. Dit het ongelukkig nie so uitgewerk nie – Coronations het sy laaste wedstryd teen Voorberg met 40-19 gewen, die beker voor Eagles se neus weggeraap en die Swartwes-streekuitdaag-titel syne gemaak.
In die Top-8-vroue-afdeling het Malmesbury Daisies en Mamre Vroue gekwalifiseer en hulle sal die Swartland verteenwoordig.
Met die laaste wedstryde afgehandel, kan die 2026-Sanlam- Boland-Top-12-kandidate van die ses streke bevestig word.
Mamre het in sy laaste wedstryd gelykop teen die Swartland-kampioen Wesbank gespeel (28 elk) en in die vyfde plek geëindig. Young Hearts, wat ook in die vyfde plek in die Weskus-streek geëindig het, het die Cove in hul laaste ligawedstryd 22-10 in ‘n wegwedstryd geklop.
Grootuitdaagbeker-kwalifiseerders:
Breë Langeberg: Robertson, Villagers Worcester.
Noord-Weste: Invincible, Delicious Noordwes.
Overberg: Hawston, Safcol United.
Swartland: Wesbank, Abbotsdale.
Weskus: Saldanhabaai, Vredenburg.
Witsentraal: Roses United, Bella Vista.
Swartwes-streekuitdaagbeker: Coronations, Young Eagles. Top-8-vrouespanne: Walkerbay (Hermanus), Central Wolves (Wellington), Mamre, Roses United (Wellington), Daisies (Malmesbury), Agulhas Giants (Bredasdorp), Warriors Worcester en Young Goodhopes (Ceres).



