ATLANTIS – Die 32-jarige verdagte wat sy meisie se 11-jarige dogter swanger gemaak het, het vandag weer in die landdroshof verskyn op ’n aanklag van verkragting.
Die verdagte is Vrydag 15 Mei deur lede van Milnerton-kinderbeskermingseenheid (FCS) in hegtenis geneem toe hy vermoedelik op die vlug wou slaan.
Die verdagte, wat reeds voorheen aangekeer was, is egter vrygelaat nadat die dossier nie op die hofrol geplaas is nie.

Volgens Eric Ntabazalila, die Wes-Kaapse woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, was die dossier nie op die rol geplaas nie omdat daar op daardie stadium nie enige bewyse was nie, en is die dossier teruggestuur na die ondersoekbeampte vir verdere ondersoek.
Die 11-jarige, wat verlede week geboorte geskenk het, het Atlantis in rep en roer gehad omdat die 11-jarige se ma en familie nie ’n woord oor die voorval wou rep nie.
Volgens ’n betroubare bron het die bom gebars nadat die kind se maatjies begin praat het, maar almal het dit aanvanklik as bogstories afgemaak. Die bron verklap ook dat die kind, ’n leerder in gr. 4, ongeveer ’n maand gelede by die skool olik geraak het.
Die staat het die hof toegespreek oor die aanklag en gesê dit is ’n Skedule 6-oortreding*. Die staat gaan borgtog teenstaan en het gevra dat hy nie vrygelaat moet word nie.
Verskeie raadslede, gemeenskapsleiers en politieke partye het vandag se hofverrigtinge bygewoon en gevra dat die verdagte nie weer vrygelaat moet word nie.
Die verdagte het tydens sy verskyning gesê hy het kontak met sy regsverteenwoordiger gehad, maar niemand het opgedaag nie.
Die hof het die saak uitgestel tot Maandag 26 Mei vir sy borgtogaansoek en om ’n regsverteenwoordiger aan te stel.
Die tiener se ma is verlede week ook in hegtenis geneem omdat sy geweier het om die seksuele misbruik aan te meld, bevestig Ntabazalila. Volgens Ntabazalila het die ma Donderdag 14 Mei in die hof verskyn en sal sy weer môre verskyn, wanneer sy ook om borgtog gaan aansoek doen.
*’n Skedule 6-oortreding is een van die ernstigste misdade in Suid-Afrika se strafregstelsel. Dit sluit onder meer ernstige moord-, verkragting- en georganiseerde misdaadsake in. In ’n Skedule 6-saak is dit baie moeiliker om borgtog te kry, omdat die beskuldigde moet bewys dat daar “uitsonderlike omstandighede” is waarom hy of sy op borgtog vrygelaat moet word. Die staat hoef dus nie eers te bewys waarom borg geweier moet word nie — die las val op die beskuldigde.




You must be logged in to post a comment.