Ek moet nog besluit in watter sport ek regtig wil uitstaan,” vertel die 22-jarige Amirah Orrie, wat reeds 16 medaljes in verskillende sporte verower het. Volgens haar is sy tans gemaklik met hoogspring en verspring.
Dié vierdejaarstudent aan West Coast College sê die gogga het drie jaar gelede gebyt, maar sy beoefen tans net sport by die kollege. “Ek het die kollege al in dans verteenwoordig en verskeie medaljes gewen, maar my grootste begeerte is om voltyds rugby te speel,” verduidelik sy.
Volgens Orrie was haar pad nooit met rose besaai nie en sy voel sy het meer dorings in haar pad gehad as enigiemand wat sy ken.
“Ek het my been baie lelik gebreek toe ‘n motorfiets my op vyfjarige ouderdom omgery het,” vertel sy. “Dit was ‘n baie pynlike ervaring en het nooit gedink my been sal so herstel dat ek in sport sal kan deelneem en boonop dans nie,” vertel sy met ‘n glimlag.
Orrie sê sy het onlangs tydens die Suid-Afrikaanse TVET-kollege-kampioenskap in Groenpunt ‘n massiewe terugslag beleef toe sy verskeie kere gegly en geval het. “Ek kon as gevolg daarvan nie na die eindronde deurdring nie, maar dit maak my net sterker,” vertel dié veelsydige sportvrou.
“My ideaal is om by verskeie klubs aan te sluit sodat my talent verder ontwikkel kan word,” sê sy.
“En ek hoop om meer op rugby te fokus.”





