Waar is die dae toe skole nog Sasa- papiere moes invul om te bevestig dat leerders wel op skool is? Dít was van die kwessies wat tydens die onlangse werksessie van die Atlantis- gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en ander rolspelers gehou is.
Volgens Cameron Luwdick, die GPF-voorsitter, is dit gewis iets wat na gekyk moet word. Daar moet nou ook gekyk word na ‘n samewerkingsplan om veral geweldsmisdaad hok te slaan. “Slegs Atlantis se inwoners kan die plan maak werk.” het Ludick aan die gehoor gesê.
“Samewerking tussen alle regeringsvlakke fokus nie noodwendig daarop om die probleem op te los nie. Die onus berus by ons om die probleem trompop te loop.”
Volgens Luwdick is vuurwapens die hoofoorsaak van dood in Atlantis en omliggende gebiede, met ‘n aansienlike aantal polisiesake van moord en poging tot moord waarby vuurwapens betrokke is.
“Suid-Afrika het een van die hoogste moordsyfers ter wêreld en ‘n beduidende persentasie van hierdie moorde behels vuurwapens. Daar sal gewis na strenger wetgewing gekyk moet word,” het Luwdick voorts gesê.
Allister Lightburn, die voorsitter van subraad 1, het gesê wetstoepassing van die Stad Kaapstad lewer ‘n beduidende bydrae tot misdaadbekamping, maar daar is steeds inwoners wat glo dat hulle niks doen nie.
Atlantis het meer buurtwaglede bygekry en gesprekke om die “Shot Spotter”-tegnologie hier toe te pas, is in n gevorderde stadium.
Peter Stoffberg, ‘n gemeenskapsaktivis, het uitgevaar teen minderjariges wat by geweldsmisdade betrokke is.
Stoffberg se veldtog, #Piemphulle, trek baie aandag en vir byna elke voorval word ‘n petisie teen borgtog by die hof ingehandig. Volgens hom is dit deesdae byna seker dat skieters borgtog geweier word.
Stoffberg het die GPF gevra dat die sowat 300 pastore in Atlantis byeengebring moet word om Atlantis te help genees. Hy meen ook dat skoolhoofde en beheerligame ‘n groter rol in die bekamping van gewelds- misdaad kan vervul.







