Bethlehem Voortrekker Hoërskool in Bethlehem het in die eerste ronde van die Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks op sy tuisveld kragte gemeet teen die Hoërskool Fichardtpark van Bloemfontein.
Op Saterdag 14 Maart kon ondersteuners langs die rugbyveld, hokkieveld en netbalbaan hulle in opwindende skolesport inleef.

Die grootste oorwinning van die dag was op die netbalbaan, waar Voortrekker se eerste span ‘n oorwinning van 44–26 oor Fichardtpark behaal het. Die wedstryd het aanvanklik baie gelykop verloop, met albei spanne wat sterk verdediging getoon het. Teen rustyd was die telling 18–18, met altwee spanne wat gespook het om ‘n voorsprong te bewerkstellig. Voortrekker het egter in die derde kwart momentum begin opbou met meer aanvallende spel en het die kwart met ‘n voorsprong van 28–22 afgesluit. In die laaste kwart het die tuisspan die wedstryd oorheers en Fichardtpark tot drie doele beperk. Cara Rautenbach van Voortrekker, wat haar debuut vir die eerste span gemaak het, het met ‘n uitstekende vertoning beïndruk en is as speler van die wedstryd aangewys.
Voortrekker se netbalspanne het in die algemeen goed gevaar, met oorwinnings vir onder meer die o.16C-, o.17A-, o.19A- en o.19C-span terwyl Fichardtpark die res oorheers het. Die o.15A-, 16A-, 16B- en 19B-span sal eers op Donderdag 9 April kragte meet.

Op die hokkieveld het Voortrekker se meisiespanne kragvertonings gelewer. Die o.14A-span het met 10–0 gewen; die o.16A-span met 5–0; die o.16B-span met 17–0; en die o.19B-span het ’n oorwinning van 21–0 aangeteken.
Die seunshokkiespanne het egter ’n moeiliker dag beleef. Die o.19B-span het met 0–1 verloor; die o.16A-span met 0–13; en die o.14A-span het ‘n strawwe stryd gevoer, maar eindelik met 3–5 verloor. Die o.19A-seunspan en -meisiespan het nie gespeel nie omdat hulle aan ‘n toernooi in Oos-Londen deelgeneem het.
Op die rugbyveld het Voortrekker se jonger spanne sterk vertonings gelewer, met oorwinnings vir albei o.14-spanne, die o.15A- en o.15B-span, asook die o.16A- en o.16B-span. Die derde span het Fichardtpark met 55–0 afgeransel, terwyl die tweede span met 35–10 geseëvier het.
Die hoogtepunt van die dag was die eerste span se wedstryd. Voortrekker het ‘n blitsige begin gehad en teen rustyd met 21–10 voorgeloop. Drieë is deur Wessel Hattingh, Katleho Pule en Katleho Xaba, gedruk; saam met drie suksesvolle doelskoppe deur JC Pretorius, het dit die tuisspan in ‘n sterk posisie geplaas.
Fichardtpark het egter ná rustyd verbete teruggeveg en die spel gedraai. Die besoekers het eindelik die wedstryd met 31–21 gewen.
Die volgende ronde wedstryde word die naweek gespeel, wanneer onder meer Voortrekker teen die Hoërskool Diamantveld in Kimberley te staan sal kom.
LEES OOK: Wesgrow skolesport-aksie lê nog voor



You must be logged in to post a comment.