Matthew Dreyden van Velddrif gekies vir internasionale jongleiersberaad

Matthew Dreyden is gekies vir internasionale jongleiersberaad
Matthew Dreyden is gekies vir internasionale jongleiersberaad

Matthew Dreyden van Velddrif gekies vir internasionale jongleiersberaad


VELDDRIF – Ná sy betrokkenheid by plaaslike gemeenskapsontwikkeling kry Matthew Dreyden nou die geleentheid om Suid-Afrika by ’n internasionale beraad vir jong leiers te verteenwoordig.

Weslander het onlangs berig oor Matthew Dreyden, die jong Weskus-sjef en entrepreneur en stigter van die MF Dreyden Hulpfonds se betrokkenheid by die kulinêre bedryf en gemeenskapsontwikkeling.  Nou kry dié jong Weskusser die geleentheid om sy gemeenskap en land op ’n internasionale verhoog te verteenwoordig nadat hy gekies is om die One Young World Summit by te woon.

Dreyden se keuring volg nadat hy deur die Oranjezicht Market Community as een van ’n beperkte groep Suid-Afrikaners vir dié internasionale inisiatief gekies is.

Die One Young World Summit bring jong leiers tussen 18 en 35 jaar van regoor die wêreld byeen. Die beraad fokus op samewerking, betekenisvolle verandering en oplossings vir uitdagings wat gemeenskappe en die wêreld raak.

Dreyden beskryf sy keuring as ’n voorreg, maar ook ’n verantwoordelikheid. As jong Suid-Afrikaner van die Weskus sien hy daarna uit om mense met uiteenlopende agtergronde te ontmoet, ervarings uit te ruil en deel te neem aan gesprekke oor wêreldkwessies en volhoubare oplossings.

Hy het sy dank uitgespreek teenoor die Oranjezicht Market Community vir die geleentheid en One Young World vir hul belegging in die volgende geslag leiers.

Deur sy werk in die kulinêre bedryf en sy betrokkenheid by die MF Dreyden Hulpfonds beywer Dreyden hom vir gemeenskapsontwikkeling. Hy sê hy wil graag geleenthede skep, jongmense bemagtig en ’n betekenisvolle verskil in ander se lewens maak.

Dreyden is trots daarop om die gees van sy gemeenskap en land op ’n internasionale platform te verteenwoordig. Hy hoop om deur samewerking en doelgerigte leierskap by te dra tot gesprekke wat positiewe verandering kan bevorder.

Vir die jong Velddriwwer bied die beraad die geleentheid om plaaslike ervaring met dié van jong leiers van regoor die wêreld te deel en nuwe perspektiewe op te doen.

LEES OOK: Weskus-sjef kook vir ’n goeie doel

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 5 November 2026
    Weslander E-Edition – 5 October 2026

Gift this article