VREDENBURG – Die beskadiging en verwydering van politieke verkiesingsplakkate vóór gister se stemmery het kommer by politici van verskeie partye gewek, met sommige wat beweer dat plakkate doelbewus gevandaliseer is.
Isak Cloete, ANC-kandidaat in Wyk 13, het gesê sy party het op Sondag 18 Oktober begin om plakkate op te hang, maar dat sommige reeds dieselfde aand in Noordkuil verwyder en agtergelaat is.
Volgens Cloete het die beskadigde plakkate duidelike gate getoon wat volgens hom daarop dui dat dit met klippe bestook is. Plakkate in Vinkstraat, Vredenburg, het volgens hom weer tekens van koeëlgate getoon.
Cloete beweer voorts dat jong kinders op Maandag 26 Oktober omstreeks 18:30 by sy woning opgedaag het en probeer het om plakkate wat hy aan sy omheiningsmuur aangebring het, te verwyder.
Hy sê hy was ongelukkig te laat om die voorval op kamera vas te lê of enige van die betrokkenes te vang. Hoewel hy vermoedens oor die identiteit van die betrokkenes het, kon hy dit nie bevestig nie.
“Die voorvalle is volgens die voorgeskrewe protokol by sy ANC-leierskap aangemeld, wat dit na bewering aan die betrokke owerhede sou deurgee,” vertel hy.
Hy voeg ook by dat die voorvalle hom egter nie daarvan sal weerhou om stemme vir die ANC te werf nie en dat hy beskadigde plakkate telkens met nuwes vervang het.
Norman van Wyk, ‘n onafhanklike kandidaat in Wyk 2, sê die beskadiging van verkiesingsplakkate is ‘n groot probleem wat verskeie politieke partye raak.
Volgens Van Wyk is dit veral vir onafhanklike kandidate ‘n duur oefening om plakkate telkens te vervang. “Terwyl ek rondry kan ek sien watter deur die wind beskadig is en watter doelbewus gevandaliseer is. Dit is ‘n hartseer toedrag van sake,” sê hy.

Geen klagtes by munisipaliteit aangemeld
Ethne Lawrence, woordvoerder van die Saldanhabaai-munisipaliteit, sê die munisipaliteit se afdeling vir polisiëring en wetstoepassing het tot dusver geen klagtes ontvang oor lede van die publiek wat politieke plakkate verwyder en in vullisdromme weggooi nie.
Lawrence sê die munisipaliteit se By-law Relating to Outdoor Advertising and Signage, 2022 reguleer die vertoon van plakkate, insluitend verkiesingsplakkate. Artikels 2.11 en 2.13 handel oor die tydperk waartydens plakkate vertoon mag word en die munisipaliteit se verwydering van plakkate wat ná die voorgeskrewe tydperk steeds vertoon word.
Die verbod op die beskadiging of onregmatige verwydering van verkiesingsplakkate word egter spesifiek in artikel 72(1) van die Local Government: Municipal Electoral Act, 2000 vervat.
Volgens Lawrence is die onregmatige verwydering of beskadiging van verkiesingsplakkate ‘n strafbare oortreding ingevolge dié wet.
Iemand wat ingevolge artikel 72 skuldig bevind word, kan kragtens artikel 80(b) ‘n boete of gevangenisstraf van hoogstens vyf jaar opgelê word. Die toepaslike vonnis word deur die hof bepaal.
Sy beklemtoon dat dit van die omstandighede en beskikbare getuienis sal afhang of ‘n spesifieke voorval inderdaad ‘n oortreding uitmaak.
Politieke partye word aangemoedig om vermoedelike onregmatige verwydering of beskadiging van verkiesingsplakkate by die polisie aan te meld en ook die plaaslike kantoor van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) daarvan in kennis te stel.
Die munisipaliteit sê sy rol is om die vereistes vir die vertoon van plakkate onpartydig en konsekwent op alle politieke partye toe te pas.
LEES OOK: NIE NET ‘N KRUISIE NIE | Hoe sou jou verkiesingsmanifes lyk?




You must be logged in to post a comment.