‘n Wellingtonse man, sy vyfjarige seuntjie en sy skoonma is ongedeerd nadat hulle Maandagaand (15 September) deur twee mans, van wie een glo gewapen was, by ‘n spazawinkel naby hul woning in Springbokweg gekaap is.
Natano Koopman het aan Paarl Post vertel dat hulle omstreeks 21:00 by die spazawinkel gestop het om melk te koop toe die voorval gebeur het.
Hy sê die twee jong mans het met hul aankoms by die winkel daar rondgeskarrel.
“Hulle het toe vir my vir ‘n R5 kom vra, waarop ek gesê het ek het nie. Hulle het egter gesien ek koop melk met los geld. My vyfjarige seuntjie en my skoonma het op die daardie tydstip in die kar gesit.”
Die volgende oomblik het Koopman glo die geskree van sy skoonma en seuntjie uit die kar gehoor.
Hy sê die twee mans het albei deure oopgemaak. Die een, wat aan die bestuurderskant ingeklim het, was volgens hom glo gewapen.
Volgens Koopman was dit in daardie stadium vir hom nie net belangrik om sy familie uit die kar te kry nie, maar ook om die rowers af te skrik.
Hy sê die een rower het toe die vuurwapen op hom gerig en hy het vir sy eie veiligheid teruggestaan.
Sy seuntjie en skoonma het veilig uit die kar geklim voordat die twee rowers met die wit 2005- Toyota Corolla met die registrasienommer CN 10412 weggery het.
Koopman het daarna sy familie veilig by die huis gekry en dadelik die polisie ontbied.
Hy sê die polisie was binne twee minute by sy huis.
“Ek is kort voor die voorval uit die hospitaal ontslaan. Ons babatjie, wat maar net drie weke oud is, is nog in die hospitaal.
“Met alles wat tans in my lewe gebeur, het ek nou regtig nie hierdie drama nodig gehad nie,” sê hy.
Volgens Koopman is die voertuig nie verseker nie.
“Ons hoop dus vir ‘n positiewe uitkoms. Hopelik is daar kameras by die spazawinkel wat kan help om die verdagtes te identifiseer.”
Hy sê sy skoonma is erg deur die skokkende voorval geraak.
“My seuntjie het vanoggend gesê hy mis die kar. Hy het gesê hy was bang hulle sou my skiet. My skoonma het gisteraand gesukkel om te loop. Dit was waarskynlik weens die skok.”
Navraag oor die voorval is aan die Wellington-polisie gerig, wie se kommentaar later bygevoeg sal word.





