Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se eerste rugbyspan het ‘n belowende seisoen agter die rug.
Die span het groot opslae gemaak toe hulle op 16 Augustus as die eerste rugbyspan in die skool se geskiedenis van die afgelope 50 jaar, die Griffons-rugbyliga gewen het. Hulle het die afgelope naweek van Saterdag 23 Augustus ook hul wedstryd in die Kovsiebeker-semifinaal gewen en speel die komende naweek in die finaal.
Op Saterdag het Witteberg, nadat hulle as die Griffon-ligawenners gekroon is, in die semifinaal van die Kovsiebeker teen die Hoërskool Upington te staan gekom.
Dié kragmeting het op die Down Touch Investments-stadion in Welkom plaasgevind.
Witteberg het hul semifinaal-wedstryd oortuigend gewen en het behoorlik die Noord-Kapenaars laat les opsê met ‘n telling van 62 – 31 op die telbord.
Puntemakers van die dag was, drieë: Qlin Booyse (drie), J.C. van Rhyn (drie), Pieter Nel (twee), en Rico van Vuuren en Tshepo Motloung (een elk). Motloung kon daarin slaag om ses van die drieë te verdoel.
In die finaal van die Griffons-liga het Witteberg teen die Hoërskool Voortrekker van Bethlehem kragte gemeet. Witteberg wen die wedstryd met ‘n telling van 47 – 33.
“Dit is vir ons absoluut ‘n voorreg om vir die eerste keer in ons skool se geskiedenis die Griffos-liga te kon wen,” sê Gustav Dreyer, Witteberg se bemarkingshoof.
Die komende naweek sal die Kovsiebeker-finaal tussen Witteberg en die Hoërskool Diamantveld van Kimberley op Shimlapark in Bloemfontein beslis word. Witteberg-rugby is na die 12de NMI Toyota Noord-Suid rugbytoernooi van 2026 uitgenooi. Hier sal hulle met Suid-Afrika se top-rugbyskole skouers skuur.





