Die wenner van die Pick n Pay Family Kroonstad, Panorama Plaza, se Shop for your School-kompetisie is Trio Primêr in Kroonstad.
Sterk ondersteuning is deur verskeie skole in Kroonstad verleen aan die kompetisie, wat van 1 November tot 31 Januarie aangebied is.
As algehele wenner het Trio Primêr op Maandag 23 Februarie R50 000 ontvang. Die meeste kasregisterstrokies is deur ondersteuners van Trio Primêr in die inskrywingshouer by Pick n Pay geplaas.

‘n Jaar se gratis skoolgeld is benewens die hoofprys ook deur een leerder gewen. Suné Bester was die gelukkige wenner.
Om vir dié kompetisie in aanmerking te kom, is ouers, onderwysers en ondersteuners aangemoedig om hul inkopies by Pick ‘n Pay Family Kroonstad te doen.
Aankope van R350 of meer kon vir die kompetisie ingeskryf word, waarna ‘n skool deur deelnemers benoem moes word.

Stephan van der Westhuizen van Pick ‘n Pay Family Kroonstad het sy dankbaarheid teenoor die gemeenskap vir hul volgehoue ondersteuning van die projek uitgespreek.
Volgens hom is dit vir die winkel ‘n voorreg om in ‘n tyd waar baie skole onder finansiële druk gebuk gaan, ‘n bydrae tot ‘n plaaslike skool te kan maak.
Jaco Viljoen, Trio Primêr se waarnemende skoolhoof, sê die R50 000-prys beteken vir die skool ongelooflik baie en hulle is dankbaar vir die hupstoot.






You must be logged in to post a comment.