Albert Moroeroe is in Maart as die nuwe besturende direkteur van VKB Brokers aangestel. Foto: Verskaf

Die besturende direkteur van VKB Brokers is Albert Moroeroe, wat sedert Maart in die pos aangestel is.

Moeroeroe, ‘n gebore en getoë Upingtonner, het in Julie 2023 by die VKB-groep aangesluit as senior bestuurder vir lewensversekering, waar hy ‘n strategie vir ‘n uitgebreide waarde-aanbod vir finansiële beplanning ontwikkel en ingestel het, asook ʼn besigheidsmodel vir VKB Brokers.

Hy beplan om die besigheid te posisioneer as een wat nog meer waarde toevoeg en die lewe van kliënte verryk.

“Ons doen dit deur holistiese advies, toegang tot plaaslike en internasionale oplossings, sowel as omvattende produkte en dienste te lewer,” sê hy.

Dit is ‘n eer wat hy met albei hande aangryp, maar nie sonder om die pad wat hom tot hier gebring het, te waardeer nie.

Moroeroe het as kaalvoetkind in die state van Paballelo en Progress, beter bekend as Blikkies in Upington, groot geword. Hy onthou sy gemeenskap as mense wat gedeel het en mekaar ondersteun het.

“In daardie strate het ek geleer wat dit beteken om nederig te wees.”

Sy ma was ‘n verpleegster, en sy pa die dominee wat die werkers en personeel van die Karsten-boerdery bedien het.

Dit was ‘n gesin wat altyd gesorg het vir ander, en so het hy geleer hoe belangrik dit is om ander te dien. Hierdie benadering pas hy steeds in sy werk toe.

As skoolseun het hy aan karate en basketbal deelgeneem en boonop koor gesing en sokker gespeel.

Hy was hoofseun op laerskool en hoërskool en die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gegaan het, het hom vaardighede geleer om leiding te neem.

Ná sy studie in Potchefstroom, waar hy ‘n voorgraadse BSc-kwalifikasie voltooi het, het hy oorspronklik ‘n belangstelling in logistiek gehad, maar uiteindelik die roete van finansies ingeslaan.

Sy pad in die finansiële sektor het hom gelei tot by Sanlam, waar hy ‘n finansiële adviseur was. Hy het in dié tydperk sy nagraadse studie in finansiële beplanning aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) aangepak.

Moroeroe het sy meestersgraad in besigheid-administrasie (MBA) voltooi, en is vir sy toewyding deur Sanlam beloon wat betref sy harde werk en lojaliteit aan sy studie en loopbaan.

Hy het ook vir ABSA as belegging-analis, welvaartbestuurder en streekbestuurder van finansiële adviseurs gewerk.

Een van sy grootste mentors was Bertie Smith by ABSA, wat hom geleer het: ” ‘n Goeie leier is nederig, en jy moet gemaklik wees in jou eie vel. Jy leer om jou swak punte te bestuur en op jou sterk punte te fokus.”

Moroeroe se droom vir VKB Brokers is dat dit ‘n sterk finansiële maatskappy sal wees, maar ook meer as dit: om kliënte te help om goeie finansiële besluite te neem.

Hy glo dat die nuwe geslag, wat nog moet opstaan en die landbousektor betree, moet ophou om verskonings te maak.

“Stop making excuses. Belê in jouself. Moenie wag dat mense in jou belê nie,” sê hy vir jong mense wat in sy voetspore wil volg.

Bowenal is sy geloof die anker van sy lewe.

“Geloof is die kern van alles vir my. Dit gee my die krag om as leier op te tree.

“Leierskap is ‘n herinnering dat jy steeds mens moet wees. Jy sal foute maak, maar dit is hoe jy val en opstaan wat die grootste verskil maak.”

Sy vrou, Enna, is ‘n navorser aan die UV, en hulle het twee dogters wat hul liefde vir karate by hul pa geërf het.

Dit is vir Moroeroe belangrik om vir sy kinders die geleenthede te bied wat hy nie altyd gehad het nie.

Tans studeer hy vir sy NQF5-kwalifikasie in korttermyn versekering, omdat hy dit geniet om kennis op te bou wat hom persoonlik meer bekwaam maak en boonop sy begrip van die besigheid waarin hy homself bevind, versterk.

Moroeroe geniet dit om kos te maak én tuin te maak wanneer hy tyd weg van die werk deurbring. Vir hom is dit die eenvoudige dinge wat die meeste saak maak, of dit nou ‘n bietjie ekstra tyd saam met sy gesin is, of die kans om iets by te dra in sy werk.

“Dit gaan alles oor mense. Hoe ons met mekaar omgaan; hoe ons mekaar ondersteun.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article